Sondag 27 April 2014

Wanneer jy die Here se wil doen, beteken dit nie dat die pad noodwendig glad gaan wees nie...

Baie Christene ly a.g.v. die feit dat hulle nie die wil van die Here doen nie.  Tog is die persoon wat wel die wil van die Here doen, nie gevrywaar van moeilikheid nie!  Sommige mense sukkel om hierdie twee begrippe te onderskei en kan nie verstaan hoekom 'n opregte kind van die Here ook somtyds ly nie. Job se vriende het dit ook nie verstaan nie...   


Die pad wat ons moet stap om te ontvang wat die Here ons belowe of in stoor het, is nie altyd maklik nie!   

 Dawid was bv. gesalf as koning lank voor hy koning geword het, maar moes o.a. op 'n stadium vlug vir sy lewe omdat koning Saul  jaloers was op hom....
Die magtige profeet, Samuel, het ook nie 'n maklike pad gehad nie en is ter wille van hierdie bediening, op 'n jong ouderdom van sy gesin verwyder...
Die Here het vir Josef gewys in drome hoe hy oor sy broeders sou "regeer"- hiervoor is hy sleggese, verkoop as 'n slaaf, later in die tronk gegooi weens valse getuienis teen hom, ens....

Die dissipels het dit ook nie maklik gehad nie - hulle moes deur baie verdrukkinge gaan, somtyds honger gaan slaap, is in die gevangenis gegooi  en sleggese.... 


Daar is heelwat ander soortgelyke situasies in die skrif.  Toe die Here vir Moses terugstuur na Egipte om die volk te verlos uit die hand van die Farao, was dit moeilike tye vir die volk: 

-Dit is bv. interessant om te merk dat die Farao strenger op hulle geraak het en hulle harder moes werk voor hulle uit die land uit is (Eks. 6:5-23)

-Dit is ook moontlik dat hulle die eerste twee plae self ervaar het, siende God eers met die derde plaag spesifiek onderskeid gemaak het tussen Egipte en die Israeliete (Eks. 8:22,23). 

-Hulle was presies gehoorsaam aan die Here en het die pad geneem wat Hy vir hulle aangewys het, maar bevind hulleself toe vasgekeer met die Farao en sy leermag op hulle hakke. Vir drie dae lank het hulle getrek van die Rietsee sonder water, en toe hulle by Mara kom, is die water bitter!  

-Waar hulle knus in hulle huise gebly het in Egipte met volop vleis, het hulle hul nou bevind in 'n situasie met geen brood en vleis nie........en so kan ons aangaan.  Die feit is, die Israeliete het hierdie situasie nie goed hanteer nie! In plaas van hulle oe te hou op die Here en hulle vertroue in Hom te plaas, lees ons hoe hulle gedurig gekla en gemurmureer het, ontevrede was en Moses en Aaron kwalik geneem het vir die situasie waarin hulle was



Hulle "wonderwerk in wording", was toe nie so maklik nie!

------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Waarin die volk gefaal het, keer op keer, was om na te laat om die Here aan te roep en vir 'n uitkoms te vra - nee, hulle het liewer loop en kla en bevrees geraak en Moses en Aaron skuld gegee vir hulle omstandighede! Hulle het hul bevind op 'n plek waar hulle geen sekuriteite gehad het nie, maar in plaas van om op die Here te vertrou, het hulle verkies om liewer soos slawe te werk (met wereldse sekuriteite), as om gehoorsaam te wees aan die Here en op Hom te vertrou! (Eks. 14:11,12).  

Die Here stroop ons ook somtyds van alle "sekuriteite" sodat ons op Hom kan vertrou.  Wanneer iemand die Here se wil doen, beteken dit nie dat die pad noodwendig glad gaan wees nie...  So het Hy dieselfde gedoen met die volk - daar was bv. 'n korter pad vanaf Egipte na Kanaan, maar Hy wou hulle nie met daardie pad stuur nie, omdat Hy geweet het dat hulle a.g.v. hulle onvertroue maar net weer sou teruggaan na Egipte die oomblik as dit nie so goedgaan nie! -(Eks. 13:17,18) - daarom het Hy hulle in 'n posisie geplaas waar hulle nie anders kon as om Hom aan te roep en te vertrou nie.  OP DIESELFDE WYSE STUUR DIE HERE ONS SOMTYDS IN 'N DOODLOOPSTRAAT IN SODAT ONS ABSOLUUT OP HOM KAN VERTROU! Hy snoei ons sodat ons meer vrug kan dra; sodat ons kan leer om Hom te vertrou en op Hom te wag! 

Moses het egter die geloof gehad en die Here telkens geraadpleeg en was tevrede met Sy manier van doen.  Hy het homself onderwerp aan die Here en het nie geskrik vir moeilikheid nie, want die Here was telkens sy uitkoms!  Hy het nie moeilikheid gesien as 'n probleem nie, want sy hoop was in die Here en hy het staatgemaak op die Here se uitkoms en het homself onderwerp aan die Here se wil. 
Moses het GELOOF gehad...
Om geloof te he, beteken nie net o.a. dat ons die wil van die Here doen nie, maar dat ons ook tevrede is met Sy wil, en vashou aan Hom in tyd van moeilikheid.
 -------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE VIR DIE WEEK:


Het ons ook daardie "geloof" wat Moses gehad het?  Wat doen ons wanneer dit lyk of dinge teen ons draai? Tree ons op soos sekeres van die volk gedoen het, deur te kla en op te gee, of vertrou ons eerder die Here? 

(Pred. 11:4)  "Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie".

--------------------------------------------------------------------------------




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.