Woensdag 23 Julie 2014

Die EVANGELIE van die Koninkryk

Soos ons maar te goed weet, beteken die woord "evangelie",  "goeie tyding of goeie boodskap".  
Wanneer ons dink aan die woord "evangelie", dan dink ons gewoonlik aan die "evangelie van Jesus Christus", m.a.w. die goeie boodskap oor die Here Jesus Christus, oor hoe Hy vir ons sondes gesterf het, en opgestaan het uit die dode - so die dood oorwin het, sodat ons ook eendag kan opstaan tot lewe...  Maar wat ons moet verstaan, is dat die woord "EVANGELIE" nie net verwysend is na die "evangelie van Jesus Christus" nie, maar ook verwysend is na "die evangelie van vrede", asook "DIE EVANGELIE VAN DIE KONINKRYK".  Ons kan bv. nie regtig die evangelie van Jesus Christus ten volle verstaan as ons nie die evangelie van vrede en die evangelie v/d koninkryk in ag neem nie.  Die EVANGELIE wat Jesus gebring het, was deels gerig op "DIE GOEIE BOODSKAP oor DIE KONINKRYK VAN GOD". 
Waar Jesus die Christus bv. na Sy 40 dae vas, DIE EVANGELIE VAN DIE KONINKRYK VAN GOD begin verkondig het in Galiléa, en Hy hulle beveel het om hulle te bekeer en DIE EVANGELIE TE GLO, was hierdie "evangelie" waarna Hy verwys het, of die boodskap wat Hy hier gebring het, (of die evangelie wat Hy wou he hulle moet GLO), nie oor hoe Hy sou sterf vir hulle sonde nie, maar dit het gegaan oor Sy koninkryk!  Dit was 'n "goeie boodskap" oor Sy koninkryk!  Die opdrag hier dus om "die evangelie te glo", het gegaan oor om "die evangelie oor die koninkryk van God" te glo.  Die evangelie gaan nie net daaroor dat ons moet glo in Jesus die Christus nie, maar ook oor dat ons die evangelie (die waarheid) moet glo oor "die koninkryk van God" - dit behels o.a. voorwaardes om deel te raak van, of hoe om in te gaan in die koninkryk en leringe oor die koninkryk van God. Baie wat hulleself "kinders van die koninkryk" noem,  sal uiteindelik nie ingaan in hierdie koninkryk nie, omdat hulle nie die evangelie oor die die koninkryk van God GLO nie! Iemand kan bv. bely dat Jesus die Christus sy Here is, maar dan moet hy ag gee op die evangelie wat Jesus gebring het: (Luk 6:46) "En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?" (gaan lees gerus ook hierdie skrif in konteks)As iemand nie ag gee op die leringe oor die Here se koninkryk nie, dan "glo" hy dit nie!  Baie bely dat hulle die Here dien, maar hulle is Hom nie gehoorsaam nie;  hulle weet wat Sy leringe behels, maar hulle gee nie ag daarop nie - in so 'n geval bely hulle dat hulle glo Jesus is die Christus, maar hulle glo nie die WAARHEID wat Hy gebring het nie?  

-Jesus het bv. geleer dat sonder vrug niemand in die koninkryk van God kan ingaan nie (ook in verskeie gelykenisse vertel Hy hoe sommige afgesny sal word en uitgewerp sal word omdat hulle nie die voorwaardes nakom nie);   tog GLO baie Christene dit nie, en dink hulle nie dat daar enige manier is hoe hulle hulle saligheid kan verloor nie?  
-Jesus het bv. geleer dat ons verdrukking sal he net soos Hy;  tog GLO baie Christene dit nie en glo eerder dat die Here nooit sal toelaat dat Sy kinders deur verdrukking gaan nie?
-Jesus het bv. geleer dat ons Hom as Eerste Liefde moet ken en dit as voorwaarde voorgehou, en waarskuwings daarby as iemand dit nie nakom nie; tog GLO baie Christene dat Hy niks van hulle verwag nie, stel sorge en begeerlikhede en genietinge van die lewe bo Hom, en dink nie dat hulle hul vrug kan verloor daardeur nie?
-Jesus het bv. geleer dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word;  tog GLO baie Christene dit nie en probeer liewer "wenners" wees, in plaas van "diensknegte"?
MIN GELOWIGES GLO REGTIG IN JESUS SE LERINGE.  MIN GELOWIGES GLO DIE EVANGELIE WAT HY GEBRING HET! Wat Jesus bedoel het met "hoor", is dat ons regtig moet ag gee op Sy woorde!  Hy het baie gepraat oor die belangrikheid van "om te hoor"!  Die manier hoe iemand "hoor", is wat uiteindelik gaan bepaal wie regtig ingaan in die koninkryk;  wie vrug dra, en wie nie, en wie hulle vrug verloor;  wie barmhartig is, en wie nie;  wie die wil van die Vader doen, en wie nie...

In die eerste kerke is hierdie evangelie wat Jesus oor Sy koninkryk verkondig het, saam met die evangelie van Jesus Christus verkondig (Hand. 8:12). Ons moet ag gee op die WAARHEID wat Jesus vir ons gebring het:  
(Mar 1:14)  En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig
(Mar 1:15)  en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


In die gelykenisse, verhale en leringe wat Jesus gegee het oor die Koninkryk van God,
stel Hy voor dat die Koninkryk in so 'n mate begeer moet word, dat die mens bereid moet wees om alles op te gee daarvoor en dit bo wereldse dinge moet soek 
(Matt. 13:44,45)(Matt. 6:21)(Matt. 19:21,29)(Luk. 14:33)(Hebr. 10:34)(Luk. 18:23,24)(Hand. 2:44-47; 4:32-35)(Hebr. 11:24-26)(Fil. 3:7-9). 

 ---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.