Saterdag 20 Desember 2014

Dood vir die wet

Net soos twee mense in die huwelik verbind is tot mekaar vir solank altwee in die lewe is, en daarom oor mekaar heers (mekaar dien), so heers die wet oor die mens solank hy lewe (Rom. 7:1,2)(1 Kor. 7:4)  -  dit is eers wanneer die mens "doodgaan", wat die wet nie meer oor hom heers nie:  anders gestel, "die mens moet vir die wet doodgaan".  (Rom 7:1,2 - "Of weet julle nie, broeders want ek spreek met mense wat die wet ken dat die wet oor die mens heers so lank as hy lewe nie? Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man"). Die wet kan nie doodgaan nie (kan nie tot niet gaan nie)(Matt. 5:17), maar die mens kan doodgaan vir die wet, maar nie op sy eie nie, want "wat God saamgevoeg het, kan geen mens skei nie" - soos in 'n huwelik.  Nie eers 'n skeibrief verbreek die verbond van die huwelik nie! ("want wat God saamgevoeg het, kan geen mens skei nie"). Die mens kan nie skei met die wet nie!  Dit is slegs deur die dood wat iemand vry is van daardie verbond.  Dus, as die mens op sy eie sou probeer om van die wet te skei, dan is dit soos egbreuk pleeg - so iemand kom onder die vloek van die wet, want dan onderhou hy nie die wet nie. MAAR IN DIE HERE JESUS CHRISTUS, KAN IEMAND DOODGAAN VIR DIE WET (sodat die wet nie meer oor hom heers nie, en hy nie onder die vloek van die wet val nie)(soos die vrou gebonde is aan haar man solank hy lewe, maar as hy sterwe, is sy ontslae van daardie verbond)(Gal. 3:10,13). 

Die wat deur die Christelike doop gegaan het, is saam met Christus Jesus "in Sy dood gedoop" - ons is dus saam met Hom begrawe, en het so ook die wet afgesterwe... m.a.w., "dood vir die wet" (nie die wet tot niet gemaak nie, maar net dood vir die wet) (Rom. 6:3,4). (2Kor. 3:6 - "wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend");  (Rom 7:6 - "Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie").  Maar Hy het ook opgestaan uit die dood, sodat ons ons tot Hom kan verbind. As iemand doodgegaan het vir die wet, is hy vry om Hom te verbind tot 'n ander - as die Here Jesus nie opgestaan het uit die dood nie, dan kon ons ons nie tot Hom verbind nie, MAAR DAAROM HET HY OPGESTAAN UIT DIE DOOD, EN HY LEWE (en nou kan ons ons tot Hom verbind, en lewe vir Hom)!  Dit kan verseker vgl. word met die huwelik, maar ons moet verstaan dat dit gaan oor OM TE DIEN.  (2Kor. 11:2 - "Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel") - nie meer getroud aan die wet nie, maar nou vry om weer te trou, soos 'n "maagd". As ons dan aan Hom verbind wil wees, moet ons verstaan dat dit gaan oor "om Hom gehoorsaam te wees".  Sommige kerke gebruik graag die beeldspraak dat hulle die "bruid van Christus" is, en wag op die bruidegom om hulle te kom haal, en alhoewel dit nie noodwendig skriftuurlik is om so te se nie, behoort ons tog aan Hom en verbind ons aan Hom soos in 'n huwelik - maar ons moet ook verstaan wat dit beteken om aan Hom te behoort,  en moet versigtig wees om te dink dat gehoorsaamheid niks daarmee te doen het nie!

Die huwelik gaan oor "om te dien", nie oor eie wil en eie gewin nie... - so raak twee wat in die huwelik verbind is, vriende.  Waar een party in die huwelik egter selfsugtig is en net sy eie wil soek, gaan dit nie goed in daardie huwelik nie.  So 'n huwelik val uitmekaar - dit is soos iemand wat bely dat hy aan die Here behoort, maar besig is met "sonde tot die dood" - hy gaan nie vrug dra tot ewige lewe nie, maar doodgaan in sy sonde en veroorsaak dat hy vryraak van die verbintenis tussen hom en die Here (soos wat die verbond verbreek word met die dood en soos wat sonde - bv. hoerery - kan veroorsaak dat getroudes skei).  So iemand staan die gevaar dat hy sy saligheid kan verloor en in die opstanding nie verbind kan word tot die Here nie (sal dus nie die opstanding tot lewe ontvang nie). Maar die persoon wat "in die Here sterwe", het die belofte van "opstanding tot lewe", waarin hy vir altyd aan die Here sal behoort, en vir altyd by Hom wees (Openb. 22:14...).
---------------------------------------------------------------------------------------------

Waar ons vroeer vir die wet vrugte gedra het, is ons nou dood vir die wet, en behoort daarom aan 'n ander  - nou behoort ons aan die Here Jesus Christus - sodat ons tot eer van God vrugte kan dra! (Rom. 7:3,4)(Rom 7:4)  So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan ‘n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra.

========================================================================

GEDAGTE:
Die feit dat die Christen nie meer die wet dien nie, maar nou die Here Jesus Christus dien, beteken NIE dat Hy die wet tot niet gemaak het nie, maar slegs dat ons nou gehoorsaam is aan 'n ander  (INTEENDEEL, IN DIE NUWE TESTAMENT MOET DIE GEREGTIGHEID OORVLOEDIGER WEES! -Matt. 5:20). Baie Christene verstaan dit nie mooi nie en dink dat omdat die Christen nie meer die wet dien nie, daar geen werke van die gelowige verwag word nie, tog het die Here Jesus Christus dit baie duidelik gemaak dat dit slegs die is wat "doen wat Hy beveel", wat Sy vriende is (Joh. 15:14). Geloof gaan daaroor dat ons soos "onverdienstelike diensknegte" moet wees (Luk. 17:10). Die feit dat ons nie meer gehoorsaam is aan die wet nie, beteken nie dat ons nie gehoorsaam hoef te wees aan Hom nie.  Dit is dan juis waaroor die "nuwe testament" gaan, is dat ons Hom nou dien, dat ons nou aan Hom behoort...  Ons moet versigtig wees om vir mense te leer dat omdat hulle vir die wet dood is daar geen gehoorsaamheid van hulle verwag word nie... - (Mat 5:19 - "Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele").  

Natuurlik is die geloof sonder werke, dood!  (Rom. 3:31).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/07/die-kerk-is-nie-die-bruid-van-christus.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/12/trou-skei-en-hertrou-3.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/03/die-wet-en-die-profete-2.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.