Sondag 11 Januarie 2015

Geloof is om Hom te KEN

Alhoewel baie Christene bely dat dit noodsaaklik is dat iemand in 'n (persoonlike) verhouding met die Here moet wees, is daar al vir jare Christene wat glo dat dit nie verwag word nie, en ook nie kan verstaan hoekom so iets gepreek word nie.  Amper asof hulle wil se dat die Christen nie direk die Here Jesus Christus kan leer KEN nie? Of dat slegs die "vaders" van die kerk Hom direk kan leer ken? Of dat jy slegs die Here kan ken deur die kanale van die kerk?  Dit is egter baie anders as wat die Skrif ons leer. 

Christus Jesus het self vir ons geleer dat ons slegs na die Vader kan gaan deur Hom (Joh 14:6), en ook die volgende gese: (Joh 14:7 - "As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het....").  Volgens 1 Joh. 2:3-14 word "om Hom te KEN" van elke Christen verwag wat geestelik groei. Iemand kan nie die Vader ken, maar nie vir die Here Jesus Christus ken nie! (Matt. 16:15-17). En as iemand die Vader nooit leer KEN nie, dan sal hy nooit eers die "kind"-stadium bereik in geestelike groei nie!  Nee, dit is nie net die "vaders" wat Hom KEN nie, maar kinders en jongmanne in Christus is juis beskrywend van iemand wat die Vader KEN.  Wat eerder uit 1 Joh. 2 duidelik is, is NIE dat dit gevaarlik is vir kinders en jongmanne om die Here (persoonlik) te KEN nie, maar dat dit gevaarlik is as hulle Hom nooit leer KEN nie!  Baie bereik net die baba-stadium van Christenskap.  Hulle sondes is afgewas, maar hulle het Hom nooit leer ken nie.  Sulke Christene moet ook heeltyd gevoed word met baba-kos, en kan nie die vaste kos verteer nie.  Dit is ook kenmerkend van die persoon wat nog 'n baba is in Christus, dat hulle nog werelds dink, en nog ingestel is op die wysheid van die wereld, in plaas van die "wysheid van bo".  Hulle wil nog self in beheer wees van hulle lewens (neem besluite op hulle eie sonder om die Here te raadpleeg); terwyl die persoon wat die Here KEN, die Here in beheer plaas van hulle lewens (en Sy wil soek). http://warechristene.blogspot.co.nz/2011/06/babas-in-die-geloof.html.  Die Christen wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg en verkeerd is nie - en hulle is nog nie geoefen om goed en kwaad te kan onderskei nie (Hebr. 5:11-14). Dit is eers wanneer die Christen DIE HERE begin KEN, wat hy kan begin voed word met meer vaste kos, en kan begin saampraat oor wat reg en verkeerd is, en die nodige onderskeidings maak. As 'n Christen nie juis tyd maak vir die Here, vir gebed, vas, en om Sy woord te leer en bepeins nie, dan gaan hy nie die Here leer KEN nie!  Jy kan nie iemand leer ken met wie jy geen tyd spandeer nie.  Jy mag dalk baie dinge van hom weet (deur wat ander vir jou vertel, of jy van die persoon oplees), maar jy leer iemand eers regtig ken wanneer jy persoonlik met daardie persoon tyd spandeer.  Somtyds ervaar ons die voordele van 'n vriendskap, maar leer nie noodwendig daardie persoon ken nie - dieselfde as wat sommige wat "babas in Christus" is, die voordele begin geniet, maar nooit regtig die Here leer ken nie.

Daar is heelwat dinge wat die "vrug van die gelowige" beinvloed.  Een daarvan is "of iemand IN DIE HERE BLY, of nie".  
-Is die persoon in "gemeenskap met die Vader, en die Here Jesus Christus"? (1 Kor. 1:9; 1 Joh. 1:3; 2 Kor. 13:14)(nie net in gemeenskap "met mekaar" nie!).  
-KEN hy die Here? (Joh. 10; 15:21). 
-Roep hy die Naam van die Here aan? (1 Kron. 16:8; Ps. 105:1)
-Soek hy na die wil van die Here? (Ef. 5:17; 2 Kor. 8:5; Hand. 21:14; 1 Kor. 4:19)
-Soek hy die waarheid? (Jer. 5:1; Joh. 4:23)
-Is sy gedagtes op die dinge daarbo? (Kol. 3:2; Fil. 4:8; Rom. 8:7; Luk. 11:17; 1 Kor. 3:20)
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------ 

Meeste mense se persepsie van iemand wat "kragtig is in die Here", gaan gepaard met 'n persoon wat kragtig deur die Here gebruik word en/of kragtige dade doen, maar die waarheid is dat daar mense is wat bv. kragtige dade doen en hulleself voordoen as dienaars van die Here, maar hulle KEN nie regtig die Here nie!  "Om kragtig te wees in die Here" gaan oor die geestelike toestand van iemand se hart, en dit word bepaal deur of iemand DIE HERE KEN, of nie. 

(Mat 7:22)  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
(Mat 7:23)  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geKEN nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------


GEDAGTE:


"WANNEER CHRISTENE NIE DIE HERE VERTROU  NIE (nie geloof het nie), IS DIT OMDAT HULLE HOM NIE KEN NIE!"
Dit is moeilik om iemand te vertrou vir wie jy nie goed ken nie,  bv. veronderstel jy het 'n vriend wat jy al jare ken - julle het baie saam gelag, saam geleer, dinge saam gedoen, dinge met mekaar gedeel... Maar jy het ook 'n ander vriend wat jy nog net 1 week ken.  Watter een van die twee vriende gaan jy meer vertrou?

Natuurlik die eersgenoemde, omdat jy hom KEN!  

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.