Dinsdag 17 Maart 2015

Eers moet die afval kom...

(2Th 2:3)  "Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf".
========================================================================
Paulus skryf aan die gemeente van Thessalonika dat hulle nie mislei word en dink dat die dag van Christus al daar is nie, want die wederkoms gaan nie plaasvind voor die AFVAL, en die mens van sonde geopenbaar word nie.  Baie Christene dink dat die wederkoms van Christus al daar is en sommige dink selfs dat ons ons bevind in die tyd van die basuine onder die 7de seel! Sommige in die gemeente van Thessalonika was ook onder die indruk dat die dag al daar is, en neem kennis dat Paulus se eerste brief aan hulle, reeds geskryf was omstreeks 20 jaar na Jesus se dood! Paulus help hulle reg in sy briewe deur vir hulle te verduidelik dat die "afval" eers moet plaasvind, maar wat is hierdie "afval" waarvan hy gepraat het?

 Sommige dink dit verwys na ongelowiges wat al meer en meer in sonde verval;  ander redeneer weer dat dit spesifiek verwys na gelowiges wat afvallig raak van hulle geloof. As ons sou gaan kyk na die konteks waarin die woord "afval" gebruik word in die Skrif, is dit duidelik dat dit nie noodwendig net verwysend is na die wat afvallig raak van hulle geloof (Deut. 7:4; Sef. 1:6; Hos. 1:2; Hand. 5:37; Gal. 1:6; 1 Tim. 4:1) nie, maar verwys ook na die wat afval verkondig; die wat ander motiveer om afgode te dien, hulle afvallig maak van die waarheid of motiveer om die leuen te glo (Deut. 13; Jer. 28,29) - spesifiek verwysend na die VALSE PROFETE. Dit is die wat voorgee dat hulle van die Here hoor, maar in werklikheid mense afvallig maak van die waarheid.  In 2 Thess. 2:3 beteken die woord afval, 'om weg te draai van die waarheid' ("defection from truth; falling away, forsake").  'n Goeie voorbeeld van so 'n valse profeet is in Jer. 28 - die profeet Hananja het 'n woord gebring, asof van die Here, wat in teenstelling was met dit wat die vorige profete oor die saak te se gehad het, en dit was ook in teenstelling met wat die profeet Jeremia gese het.  Hananja het voorgegee dat hy deur die Here gestuur is en het leuens aan die volk versprei en hulle valse hoop gegee (Jer. 28:15,16).  Ook in Jer. 29 kry ons 'n voorbeeld van iemand "wat afval verkondig het".  Ook in daardie geval was dit iemand wat voorgegee het dat hy in die Naam van die Here praat, maar dit was nie so nie. (Jer. 29:31,32). Met dit in ag geneem is dit nogal interessant om te sien dat die afval waarna Paulus verwys in 2 Thess. 2:3, ook dieselfde tyd gaan gebeur, net voor of met, as die openbaarmaking van die Antichris.  Ons weet dat die VALSE PROFEET waarvan ons lees in Openb. 13 en 19, aan die Antichris se sy sal wees.  Die Valse Profeet gaan die bewoners van die aarde verlei, en hulle beweeg om 'n beeld te maak vir die Antichris en sal almal dwing om dit te aanbid .  HY SAL M.A.W. AFVAL VERKONDIG! http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/03/die-valse-profeet.html.

Die woord "afval" in 2 Thess. 2 kan ook verwys na iets wat verlate gestel word ("forsake").  Daarom is sommige geleerdes van mening dat die woord afval in hierdie skrif eerder verwys na die "gruwel van verwoesting" (Mark. 13:14; Dan. 8:11-13).
-Mat 24:15 - "Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—".  Ons weet dat dit in dieselfde tyd sal gebeur wanneer Jerusalem se verwoesting naby is (Mark. 13:14; Luk. 21:20,21).  Weer-eens sien ons hier die verband tussen die "afval" en die Antichris (en die valse profeet wat hulle sal verlei om 'n beeld te maak)(en "verlatenheid").
____________________________________________________________________________

GEDAGTE:

Ons dink dat Christene nie so maklik verlei sal word om afgode te aanbid nie, maar die waarheid is dat baie Christene alreeds leringe van duiwels aanhang en ingeval het by die afval wat verkondig word.  Kyk maar hoeveel is betrokke in heidense praktyke en hoeveel kerke laat selfs joga toe binne-in hul kerk en leer Christene om hulleself oop te stel vir verleidende geeste!  Hulle kies om by hierdie dinge betrokke te raak bloot vir die voordele wat hulle sg. daaruit kan kry, maar wanneer iemand nie meer die Here as antwoord kies nie, maar opsetlik ander geloofspraktyke as antwoord begin soek, dan kan hy tog nou nie bely dat hy die Here raadpleeg (ken) nie!  Selfs baie predikers is besig met verdraaide waarhede en doen "contemplative prayer" en "energy healing" in hulle kerke.  Die Christelike kerk is op die drumpel van vreeslike afvalligheid, en daar is hope voorbeelde van mense wat in hierdie dinge begin, en opeindig in ander gelowe soos Buddhisme en die New Age.  Op die ou end het hierdie heidense praktyke veroorsaak dat hulle afgode aanbid!   Alhoewel sommige Christelike kerke en Christene sterk die evangelie en die waarheid probeer beskerm, is daar meer en meer kerke wat betrokke raak in hierdie mistieke element.  
Deur 
- media wat laster en die waarheid opsetlik verdraai, 
- "verkeerde oordeel" 
- en 'n tekort aan lering in die kerk, 
is Christene gereedgemaak om hierdie leringe van duiwels te ontvang. Dit is absoluut kommerwekkend hoeveel Christene by hierdie verdraaide waarhede inval, en nie eens belangstel om die waarheid daaroor te hoor nie.  Hulle aanvaar dit blindelings, en gee nie ag op die waarskuwing van die Heilige Gees nie - miskien omdat hulle nie belangstel om gehoorsaam te wees aan die Here nie?! 

Hulle het ingeval by die "afval wat verkondig word". 

Die ergste is dat baie Christene wat deelneem aan hierdie praktyke, ook ander probeer motiveer om saam met hulle daarin betrokke te raak. (Mat 18:7 - "Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom"). Ons moet bid vir ons broers en susters en opstaan vir die waarheid.  Meer as ooit het ons die gawes van die Gees nodig, en moet elke Christen bid vir dit wat nodig is soos onderskeiding en ware liefde wat liewer waarsku as om vir mense valse hoop te gee... (soos die profete van die ou tyd gedoen het).
========================================================================
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/07/want-eers-moet-die-afval-kom.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/07/tot-die-sonde-vol-is.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/moenie-oordeel-veroordeel-nie-3.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.