Dinsdag 24 Maart 2015

Glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef

Sommige verkeer onder die illusie dat 'n Christen se sinne ("mind") glad nie bedorwe kan raak nie, maar dit is in teenstelling met wat die Skrif ons leer. Die waarheid is dat die duiwel nog steeds probeer om gelowiges te bedrieg deurdat hy hulle probeer kry om:
(1)  'n ander Jesus aan te neem;
(2)  'n ander gees te ontvang; en
(3)  'n ander evangelie aan te neem.  (2 Kor. 11)
Die persoon wat opstandig is teen die waarheid (die weerspannige)(2 Tim. 2:23), word gesien soos iemand wat in die "strik van die duiwel" is (2 Tim. 2:25,26) - meer presies verduidelik v. 26 dat dit die is wat gevang is om die wil van die duiwel te doen.  En l.w. dat die skrif geensins hier verwys na 'n ongelowige nie, maar na 'n GELOWIGE.  Baie Christene is vandag in die strik van die duiwel (en doen die wil van die duiwel). Gaan lees ons 2 Kor. 11 in konteks , dan is dit duidelik dat die rede waarom hulle hul oopstel vir valse leerstellings is omdat hulle die WAARHEID begin sien soos dwaasheid.  Wanneer die waarheid vir 'n gelowige soos dwaasheid klink, dan het hy klaar die gronde van 'n "bedorwe verstand" begin betree. (1Kor. 2:14)
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die ou ou manier wat die duiwel gebruik om mense sover te kry om sy wil te doen, is deur die WAARHEID TE VERDRAAI.  Net soos hy die waarheid verdraai het in die tuin van Eden (Gen. 3:4,5). Op dieselfde wyse verdraai hy steeds die waarheid.  So word die geloofwaardigheid van die boeke van die Bybel van alle kante aangeval - die duiwel sal enige iets doen om mense te laat twyfel in "wat die waarheid is", en om hulle te laat glo in 'n verdraaide waarheid.  Baie het vir hierdie strik geval:
-bv., baie Christene glo vandag dat daar nie iets soos "absolute waarheid" bestaan nie, en glo dat "waarheid" beskryf word deur wat hulle dink dit is! In verskillende kerke word Christene die geleentheid gegun om self te besluit "wat waarheid is". Kyk bv. hoeveel kerke laat deesdae hulle lidmate toe om te besluit wat as reg en wat as verkeerd gesien word, soos dat daar gestem word om self te besluit hoe hulle onderwerpe soos die huwelik wil beskrywe...  Dit gaan nie meer oor wat die Here sê die waarheid is nie! Dit gaan nie meer oor die waarheid wat vir ons in die Bybelboeke neergeskryf is nie!  En so het vele vir die leuen geval wat sê dat "waarheid is wat elkeen dink dit is!" (nie wat die Here sê dit is nie).

Ook baie Christelike films en boeke word gebruik om die waarheid te verdraai en vele Christene, omdat hulle nie tyd neem om die waarheid te leer ken nie, glo hierdie dinge onvoorwaardelik. En hulle oortuiginge is beslis nie afkomstig van tyd wat hulle spandeer het om die waarheid te soek nie, maar eerder afkomstig van films en boeke wat vir hulle dien as 'n maatstaf van lering! ?  Sommige neem selfs boeke soos "The Da Vinci Code" as 'n formaat om te leer oor vroee Christenskap!? (alhoewel ons tog goed weet dat die boek self net fiksie is).

Ook preekstoele word gebruik om die valse lering te bring - kyk die vb. van die sg. "Hebrew Matthews". Baie subtiel het die leermeesters van "Shem Tov Matthew" massas Christene oortuig dat hulle Hebreeuse kopie van Mattheus dieselfde is as die oorspronklike. Hulle saai twyfel en is daarop uit om die geloofwaardigheid van die Bybel aan te val. Andersins probeer hulle om Christene eerder gehoorsaam te maak aan die wet, as aan die Here, en verdraai opsetlik die waarheid wat Christus Jesus vir ons gebring het. "Shem Tov Hebrew Matthew" is 'n korrupte kopie van die Latynse teks (wat weer 'n kopie is van die Griekse teks) - dit het sy oorsprong in Europa tussen 1300 en 1500, en kan nie naastenby vgl. word met die "dooie see rolle" soos sommige probeer doen nie.  Baie mense lees hierdie Hebreeuse teks van Mattheus in die plek van die een wat ons in die Bybel vind (asof  Hebrew Matthew meer geloofwaardig!), maar gee nie ag op hoe verdraaid die boek is nie.  Jesus word bv. nooit daarin voorgestel as die Messias nie, en in die boek het Johannes die Doper meer status as Christus Jesus.  "Vergifnis van sonde" deur die Here Jesus Christus, is ook heeltemal uit die teks verwyder, asook ander belangrike tekste soos Hand. 8:37 en 1 Joh. 5:7.  Nog ander woorde is ook weggelaat, soos die woord "Christus" in Matt. 1:1 en 18, en in ander gevalle is die betekenis geheel verander in baie skrifte, soos Matt. 12:6 wat voorgegee word asof "die tempel groter is", terwyl die teks eintlik vir ons leer dat "Christus groter is as die tempel"!  Christene moet liewer bly by die boeke van die Bybel!, en liewer hulle hoop plaas in die meer as 24 000 manuskripte, vertalings en kwotasies wat ons het van boeke v/d Nuwe Testament waarvan daar maar iets soos 0.5 % verskille is tussen hulle (en waarvan sommige selfs sover terug dateer soos 100 n.C.), as wat hulle 'n paar kopiee vertrou van iets wat geskryf is in die 14de eeu! 

Die verskil in jare tussen kopiee van Bybelboeke, is maar iets soos 30 - 120 jaar (terwyl in die geval van ander antieke boeke dit sowat 300 - 850 jaar verskil!). Onder die kopiee van die N.T. is selfs 'n fragment wat maar iets soos 30 jaar geskryf is nadat die apostels dit geskryf het, en slegs sowat 40 sinne/40 woorde in die N.T. word bevraagteken wanneer kopiee met mekaar vgl. word (terwyl in die geval van ander antieke of heilige geskrifte baie meer bevraagteken word - in een van hulle, 764 sinne; en 'n ander 26000 sinne! - en l.w. van boeke wat bekend staan as "heilig", maar nie naastenby kan kers vashou by die geloofwaardigheid tussen ou kopiee van bybelboeke nie).
========================================================================

GEDAGTE:

Vele het oor die eeue probeer bewys dat Bybelse gebeure nie werklik is nie, of probeer bewys dat Christus nie opgestaan het uit die dood nie, net om tot die slotsom te kom dat hulle verkeerd was.  Dr. Simon Greenleaf, die man wat Harvard Universiteit beroemd gemaak het, was so iemand wat tot bekering gekom juis toe hy gepoog het om Jesus se opstanding uit die dood as ʼn mite te ontbloot. Hy't die volgende gesê : “According to the laws of legal evidence administered in the courts of justice, the resurrection of Jesus Christ is one of the best established events of history.”  Net soos hy, is daar baie ander wat, wanneer hulle die WAARHEID SOEK, regtig tot insig kom.  Ook deur argeologie en ander geskrifte is keer op keer bewys dat historiese gebeure in die Bybel akkuraat en waar is. Inteendeel, geen ander boek van die antieke wêreld beskryf historiese gebeure so deeglik soos die boeke van die Bybel nie; behalwe dit is daar veel maal meer kopiee van die boeke van die Bybel as wat daar is van enige ander antieke boek!

DIE HOEVEELHEID AFSKRIFTE van Bybelboeke WAT OORLEEF HET is ongelooflik baie, en die vgl. tussen hierdie geskrifte geweldig akkuraat! Ons moet mekaar bemoedig om die waarheid te soek, en liewer die Bybel lees en bybelstudie doen as om ons lering te kry van films en boeke wat gaan oor mense se opinies en nie noodwendig op waarheid gegrond is nie.  (2Kor. 10:18)  "Want nie hy wat homself aanbeveel, dié is beproef nie, maar hy wat deur die Here aanbeveel word".
========================================================================
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/06/wat-is-die-waarheid.html

Verwysings:
http://oneinmessiah.net/HEBREWMATTHEW.htm
http://www.christianity.co.nz/bible-3.htm
https://www.youtube.com/watch?v=DDCmmAX3PFk
http://www.schoyencollection.com/bible-collection-foreword
https://www.youtube.com/watch?v=C_SGHPxnN8g


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.