Vrydag 16 Oktober 2015

Die godsaligheid

Die begrip "godsaligheid" verwys wel na die HOOP op saligheid, maar eerder na hoe ons in 'n wedloop is sodat ons hierdie saligheid sekerlik kan behaal! Dit beteken nie dat ons saligheid verkry deur werke nie, maar eerder dat werke gaan oor "DIENSBAARHEID AAN DIE HERE" en 'n bewys is dat ons glo.  Wanneer Paulus die stelling maak dat ons ons moet oefen in die godsaligheid, dan is dit in konteks met hoe hy sy liggaam sien soos 'n vyand teen wie hy te staan kom.  En nee, hy bedoel nie dat ons meer oefening moet doen en net sekere kosse moet eet nie (wat terloops gesien word as "werke"!), maar hy bedoel dat ons die godsaligheid liewer moet najaag. Om meer ag te gee op die godsaligheid as op hierdie dinge, beteken bv. nie dat die liggaamlike oefening van geen nut is nie, maar beteken dat dit tot weinig nut is teenoor die godsaligheid wat veel belangriker is! (1 Tim. 4:8).  

Dus, let op die konteks van 1 Tim. 4, dat dit gaan oor "fabels" waarin mense glo waarin hulle verbied word om te trou en gebied word dat hulle hul moet onthou van voedsel wat God geskape het... Hulle het gedink dat die Here van hulle verwag om hierdie "werke" te doen, maar wat Hy eintlik van hulle verwag het is om eerder die godsaligheid na te jaag, m.a.w. om sonde in hulle lewens neer te le, om die duiwel en versoekinge tee te staan en gedagtes te vernuwe tot gehoorsaamheid aan ChristusWat help dit iemand bring sy liggaam fisies in gereedheid en lyk pragtig en gesond, maar hy kasty nie sy liggaam om dit diensbaar te maak vir die Here nie?   Wat help dit hy maak sy liggaam diensbaar aan allerhande wette, maar hy kasty dit nie om versoekinge te weerstaan, of gedagtes te verander tot gehoorsaamheid aan Christus nie?
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
OM DIE GODSALIGHEID NA TE JAAG GAAN OOR DIENSBAARHEID AAN DIE HERE
(geloof en gehoorsaamheid),
-  en gaan veral daaroor dat ons nie ons hoop moet plaas in ander dinge nie, maar in die Here (http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/01/oefen-jou-in-die-godsaligheid.html);
-  en dit gaan daaroor dat ons die duiwel en versoekinge moet weerstaan (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/weerstaan-die-duiwel-2.html) (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/versoeking-2.html).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In 1 Tim. 2 word bv. ook van vrouens verwag om meer aandag te gee aan die godsvrug (wat behels, beskeidenheid, ingetoenheid, goeie werke) as aan die uiterlike. Die persoon wat nie die Here dien nie, is meer ingestel op die uiterlike en op wat ander mense van hulle dink; maar die persoon wat wel die Here dien, is meer ingestel op die innerlike en op wat die Here van hulle dink.  Elke gelowige is geroep om vrug te dra, maar nie vrug uit eie wil nie, maar uit diensbaarheid aan die Here, volgens Sy wil.  'n Gelowige wat "meer besig is met die lewe as met die Here", sal dit moeilik vind om die wil van die Here te doen omdat hy meer gefokus is op sy eie sieninge en wil.  (Mat 10:39 - "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Dit is duidelik volgens 1 Kor. 9 dat nie almal in die wedloop die prys gaan behaal nie, en dat ons so moet hardloop en seker maak dat ons dit sekerlik behaal.  In die gedeelte vergelyk hy Christene (wat gedoop is en deel het aan die liggaam van Christus) met die volk in die woestyn (beeldspraak, "gedoop in wolk en see en geestelike spys geeet en geestelike drank gedrink uit die rots") - hy gee ons 'n WAARSKUWING en herinner die kerk daaraan dat baie van daardie mense nie ingegaan het in die beloofde land nie omdat hulle ongehoorsaam en ongelowig was... Op dieselfde wyse moet Christene (wat gedoop is en die nagmaal gebruik...) wat nie ag gee op die pad van godsaligheid nie, nie dink dat hulle eendag die OPSTANDING TOT LEWE sal ontvang en ingaan in die koninkryk van God as hulle so ongehoorsaam en ongelowig is nie! 

In 1 Kor. 9 noem Paulus ook spesifieke voorbeelde van hoe ons moet ag gee op die pad van godsaligheid, bv.:
dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie; 
en wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie;
en laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie,
en laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie,
en moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie........


------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.