Sondag 24 Januarie 2016

Wanneer is iemand regtig volwasse?

In die samelewing word iemand gewoonlik as 'n volwassene gesien wanneer hy/sy 'n sekere ouderdom bereik het.  Ons weet egter dat sekere mense gouer volwassenheid bereik as ander en weet dat dit nie alleen deur ouderdom bepaal word nie.  Die vraag is egter wat dit dan nou eintlik is wat bepaal wanneer iemand volwasse is of nie?  M.a.w., WAT IS DIE VERSKIL TUSSEN 'N KIND EN 'N VOLWASSENE?  In die samelewing speel kennis 'n groot rol om dit te bepaal.  Kinders wat skool voltooi kry bv. beter werke in die grootmenslewe en word ook meer deur die samelewing vertrou as die wat vroeer uit die skool gaan.  Kinders sukkel om verder te gaan leer as hulle nie skool voltooi het nie en diesulkes bevind hulle dan in 'n grootmenslewe waarvoor hulle nie noodwendig al gereed is nie. Ouers vrees ook dat as hulle kinders vroeg uit die skool gaan, hulle verkeerde besluite sal neem en maklik na verkeerde mense kan luister omdat hulle nog nie goed kan onderskei tussen goed en kwaad nie. KENNIS speel dus 'n groot rol en die met meer kennis word gesien as meer volwasse. Maar WYSHEID speel ook 'n baie groot rol.  Kinders wat vroeer "wys" is, word makliker vertrou en posisies gegee wat ander kinders nie noodwendig toekom nie.

Die manier hoe die samelewing volwassenheid beskryf, is nie veel verskillend van die manier hoe die Skrif "kinders of volwassenheid in die geloof" beskryf nie.  Die skrif maak ook 'n duidelike onderskeid tussen die wat nog KINDERS is in die geloof, en die wat soos VOLWASSENES gesien word.  Inteendeel, daar word selfs ook gepraat van "babas" en "jongmanne"! Elkeen van hierdie groepe in die Christendom kan deeglik beskryf word en is herkenbaar net soos in die samelewing.  Die vgl. word ook gemaak van hoe babas en kinders in die geloof eerder met melk gevoed moet word, en dat vaste spys is vir die volwassenes (Hebr. 5:13; 1 Kor. 3:2)(natuurlik geestelik bedoel).  Jongmanne word beskryf as "sterk" en die wat die "bose oorwin het en die woord van God bly in hulle" (1 Joh. 2:14).  Hierdie is alles beeldspraak om, net soos in die samelewing, te beskryf hoe die Christen (geestelik) groei.
________________________________________________________________________________
Kom ons kyk wat die Skrif ons leer oor hoe 'n KIND IN DIE GELOOF beskryf word:
(Eph 4:13,14)(Hebr. 5:14)
- (1) hulle word maklik soos golwe geslinger en
(2) word heen en weer gedryf deur elke wind van lering (deur die bedrieĆ«ry van die mense deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring)
- (3) het nog nie volkome tot die eenheid van die geloof gekom nie
- (4) het nog nie volkome tot die eenheid van die kennis van die Seun van God gekom nie
- (5) hulle besit nog nie geestesvermoens (deur die gewoonte geoefen) om goed van kwaad te onderskei nie.

NET SOOS DIE BELANGRIKHEID VAN KENNIS EN WYSHEID IN DIE SAMELEWING, IS DIT BELANGRIK IN DIE GEESTELIKE GROEI-PROSES VAN DIE CHRISTEN.  Pasgebore kindertjies het melk nodig  -  in beeldspraak verwys "melk" na die WOORD (1 Pet. 2:2).  Elke baba in die geloof het die WOORD nodig om te groei. Die wat egter nog melk gebruik is nog onervare in die woord van geregtigheid (Hebr. 5:13), maar hulle verlang daarna soos 'n baba melk soek. Christene wat terugval in sonde (soos die wat afgunstig is en kwaadspreek van ander ens.) begeer nie meer om geleer te word deur die woord nie - in 1 Pet. 2 word diesulkes beveel om die sondes af te le en weer te verlang na hierdie onvervalste melk, nl. die woord. Wanneer ons ag gee op die woord, op die waarheid, dan kan ons groei. Hierdie is ook iets waaroor Jesus gedurig gepraat het oor hoe ons moet HOOR (in die sin van hoe ons moet ag gee daarop). 

Die wat "kinders" is in die geloof se sondes is vergewe, ja, en hulle ken die Vader (1 Joh. 2:12-14), maar het nog baie insig nodig. Hulle is soos kinders (wat maklik verkeerde besluite neem, val vir groepsdruk, en as hulle iemand vertrou glo hulle enige iets wat hulle hoor).  Net soos ouers maar te bewus is van die gevaar as hulle kinders op 'n jong ouderdom die huis verlaat, net so moet ons bedag wees op die "kinders" in die geloof wat maklik kan val vir valse leerstellings wanneer hulle onder groepsdruk verkeer en hulle vertroue in 'n verkeerde plaas omdat hulle nog sukkel om te onderskei tussen goed en kwaad.  "Kinders" in die geloof het nog die leiding van 'n volwassene nodig sodat hulle nie verkeerde besluite neem nie, en des te meer die leiding van die Heilige Gees. As "kinders in die geloof" kan leer om te vas, sal hulle die wysheid en kennis van die Here ontvang wat hulle nodig het en meer ingestel wees op wat die Gees vir hulle se. 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Om "soos 'n kind" te wees word deels as positief beskryf in die Skrif, maar dit word ook somtyds as negatief gesien, want dit gaan eerder oor die tipe vergelyking wat gemaak word.  Jesus het bv. vir ons geleer "om soos kindertjies te word" (Matt. 18:3-7), maar wat Hy hiermee bedoel het is nie dat ons nooit tot geestelike volwassenheid moet groei nie, maar dat ons onself moet VERNEDER soos kindertjies. Inteendeel, dit is hierdie element (nederigheid) wat kortkom in baie van ons hoekom ons nooit groei tot volwassenes in Christus nie!  Kinders wat dink hulle weet alles, leer niks.

Die doel van die apostels, profete, evangeliste, herders en leraars was om die heiliges toe te rus vir dienswerk SODAT HULLE NIE MEER KINDERS SOU WEES NIE...(Ef. 4:12-14).  In 'n mate bly ons almal kinders wat nooit ophou leer nie, maar wat die verskil maak tussen 'n kind en 'n volwassene is dat die volwassene hom nie sommer deur enige iemand laat leer of lei nie omdat hy oor die vermoens beskik om te kan onderskei tussen goed en kwaad; die kind aan die ander kant laat hom deur enige iemand lei vir wie hy vertrou of wat hom in die gehoor streel.  Alle Christene, hetsy nog kinders in die geloof, of volwassenes,  moet hulleself verneder voor die Here en Sy wysheid en kennis begeer. Jesus het vir ons hierdie waarhede kom deel, maar as ons nie ag gee daarop nie (en gevoed word deur die woord nie), dan sal ons nie groei nie.  En Hy het vir ons die Gees gegee - ware wysheid en kennis is nie regtig iets wat met ouderdom kom nie, maar iets wat van die Gees kom! (Job 32:8,9).  Wanneer Christene begin dink dat hulle nie meer Bybelstudie of lering nodig het nie en wysheid soos dwaasheid begin sien, dan gaan hulle ook nie veel verder in hulle geloof groei nie! 'n Kind het insig nodig - hy moet nog "geleer" word.  Op dieselfde wyse het die wat nog kinders in die geloof is, insig nodig.  As hulle nie wil leer nie, dan kan hulle nie groei tot volwassenheid nie.  Kinders van die Here moet hulle daagliks verneder voor die Here sodat hulle nie miskien soos moeilike tieners uitdraai nie. Tieners is geneig om te dink dat hulle al volwasse is, maar maak nog die foute van 'n kind, (soos om vir groepsdruk te val en as hulle iemand vertrou glo hulle enige iets wat hulle hoor).  Die wat nog kinders in die geloof is val juis maklik in hierdie selfde strik want hulle word heen en weer gedryf deur elke wind van lering en besit nog nie geestesvermoens om goed van kwaad te onderskei nie.  (http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/11/hoekom-skei-die-here-nie-nou-al-die.html)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.