Woensdag 16 Maart 2016

Sonde is nie 'n fisiese siekte

Daar is baie soorte siektes, maar ook baie sondes wat siektes genoem word wat nie regtig siekte is nie bv., iemand wat in 'n gewoonte is om te steel of hoereer of om in een of ander sonde te stap, word baiemaal voorgestel as iemand "met 'n siekte". Maar dit is ook nie heeltemal verkeerd om SONDAARS te sien as "ongesteld" nie, want net soos die een met 'n fisiese siekte die geneesheer nodig het, so het die sondaar Die Geneesheer (Jesus Christus) nodig!  Jesus het self die beeldspraak gebruik van hoe die sondaar "genesing" nodig het in Mark. 9:12, maar die antwoord wat Hy gegee het was natuurlik nie die wereldse antwoorde soos medisyne of ander geloofspraktyke  nie, maar eerder "bekering";  en let wel dat Hy Sy prediking begin het met die woorde: "BEKEER JULLE". 
--------------------------------------------------------------------------------------------
Ons moet onderskei tussen 'n fisiese siekte (wat natuurlike medisyne nodig het, en terloops natuurlik ook deur die Here genees kan word) en die beeldspraak wat in Mark. 9 gebruik word. Sonde is nie 'n fisiese siekte nie, maar die persoon wat in sonde verkeer, is "siek" op 'n ander manier. As ons glo dat "sonde" slegs fisiese siekte is, dan sal ons nooit die nodigheid sien van bekering nie (en sal so iemand terloops ook nooit gesond word nie!). 

'n Fisiese siekte is anders bv., " 'n gestremde kind het nie veel beheer oor sy reaksies nie...", maar die persoon wat in sonde stap het wel BEHEER OOR SY REAKSIES!  "Sondes" is nie siektes van die liggaam nie (maar kan wel somtyds siekte van die liggaam veroorsaak!).  Baie is "ongesteld" a.g.v. sondes, maar in plaas van om hulle te bekeer daarvan, gaan soek hulle allerhande wereldse antwoorde. Selfs Christene val in hierdie strik.  'n Christen wat bv. verbitterd is en in die gewoonte om kwaad te spreek van ander, gaan gedurig neerslagtig en ongelukkig voel. Medisyne of die navolg van afgodspraktyke gaan beslis nie hiervoor help nie! - wat so 'n Christen moet doen, is om hom te bekeer van verbittering en kwaadspreek.

Die wereld het nie die antwoord op "geestelike siekte"( a.g.v. sondes) nie! Die antwoord wat die Bybel vir ons gee op hierdie soort siektes,  is "bekeer julle". Medisyne is bedoel vir siektes van die liggaam, nie "siektes" van die hart nie!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wanneer Jesus verwys het na dit wat die mens onrein maak, het Hy juis verwys na dit wat in die hart aangaan en dan "uit die mond" kom of "iemand sondig omdat sy hart verkeerd is" (m.a.w. dit gaan oor die booshede wat "van hom uitgaan"). Heelwat Christene is vandag onder die miskonsepsie dat almal wat siek is "onrein" is. Sommige van die Fariseers en skrifgeleerdes het ook so geglo (Matt. 15) bv., hulle het geglo "dat wanneer iemand eet met ongewaste hande, dit hulle onrein maak", maar alhoewel so 'n gebaar iemand fisies kan siek maak, moet dit nie verwar word met die onreinheid van die hart nie. Andersins is daar weer heelwat Christene wat vandag glo dat almal wat siek is, dit is a.g.v. sonde of selfs dat hulle bose geeste in hulle het, maar ons moet natuurlik verstaan dat alhoewel sonde iemand fisies kan siek maak, en sommige wel gebind word deur siekte a.g.v. bose geeste, dit natuurlik nie altyd die geval is nie.

Die "onreinheid" waarvan Jesus gepraat het, verwys nie na dit wat die liggaam fisies kan siek maak soos om met ongewaste hande te eet nie, maar na WAT IN DIE HART AANGAAN, en dit is hierdie onreinheid wat gaan saakmaak wanneer ons almal eendag geoordeel word.  Dit gaan dus nie oor "wat van buite af in die mens ingaan" (Matt. 7:15) of "wat in die mond ingaan" (Mark. 7:15) nie, maar oor wat UITGAAN uit die mens.  DIE VRAAG WAT DUS GEVRA MOET WORD IS WAT IN IEMAND SE HART AANGAAN?  (Tit 1:15 - "Alle dinge is REIN vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel").

_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:


Net soos die wat liggaamlik "siek" is, so word die wat in sonde stap, gesien as "ongesteld".  Hulle het die Geneesheer nodig, maar kan nie genesing van die Here ontvang as hulle hul nie BEKEER nie. 'n Christen wat bv. hoereer agter ander afgodspraktyke aan of stap in aanhoudende sondes sonder om te bekeer daarvan, word gesien as ONGESTELD - so 'n Christen se hart is verkeerd.  Daar word maklik gese dat alles is geoorloof vir die Christen omdat hy alreeds REIN is deur die woord, maar die waarheid is dat almal wat nie in die Here bly nie, weer onrein kan word!  Jesus praat hieroor in Joh. 15:3-7.  Die wat REIN IS, maar nie in Hom bly nie, sal nie vrug dra nie, en die wat nie vrug dra nie, sal uitgewerp word. Die wat (geestelik) ongesteld is het die Geneesheer nodig, maar hoe sal hulle tot bekering kom as hulle nie "hoor" nie?  Jesus het vir ons die voorbeeld gestel en het nie geskroom om tyd te spandeer met die wat "ongesteld" is nie, maar wat baie mis is dat Hy vir hulle DIE WAARHEID gedeel het (terwyl Hy met hulle tyd spandeer het). Hy het hulle nie onvoorwaardelik vergewe nie, maar eerder vir hulle vertel wat hulle moet doen om vergifnis te ontvang. Die liefde wat Hy getoon het was nie om hulle sonde te aanvaar of regverdig nie, maar Hy het hulle eerder opgeroep tot bekering en vir hulle die voorwaardes gestel van wat hulle moet doen om te kan ingaan in Sy koninkryk. Die voorbeeld wat Jesus Christus, ons Geneesheer, vir ons gestel het is baie anders as wat vandag geleer word dat liefde en vergifnis onvoorwaardelik is...?  
Laat die wat die Geneesheer nodig het, hulle tot Hom bekeer!

(Mat 5:8)  Salig is die wat REIN van hart is, want hulle sal God sien.
_________________________________________________________________________________

http://kortbybelopsommings.blogspot.co.nz/2014/10/eerste-beginsels-van-die-prediking.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/02/wat-is-die-sonde-tot-die-dood.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/wat-beteken-dit-om-tot-bekering-te-kom.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.