Wys tans plasings met die etiket besoedelde gewete. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket besoedelde gewete. Wys alle plasings

Maandag 25 September 2017

Hoe word die gewete GEREINIG?

Voor ons kan verstaan hoe iemand gereinig word, moet ons eerstens verstaan wat dit is waardeur iemand onrein word?, bv.
-  is dit deur SONDE?
-  is dit deur DOOIE WERKE?
-  of beskryf die onreinheid slegs 'n TOESTAND?

 Ons moet ook verstaan "wat" dit is wat onrein word?, bv.
-  is dit die LIGGAAM?
-  of is dit die GEWETE?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die manier hoe die LIGGAAM weer rein gemaak kon word in die O.T. (in die tyd v/d woestyn, rigters en konings), is deur die offerstelsel v/d tempel (tabernakel), en met die bloed van stiere en bokke. Waar vlees onrein is a.g.v. sondes, moet daar altyd met bloed betaal word! (Hebr. 9:22).  Hierdie feit was egter altyd so gewees van die begin af, en selfs nog voor die tyd v/d tempeldiens het manne van God offers gebring aan die Here... (Gen. 4:4; 8:20; 22:13; 31:54; Eks. 3:18). Hierdie was dan ook moontlik die rede waarom Kain se offer nie aangeneem was nie, want 'n offer van vrugte kan nie betaal vir sonde nie!

In die N.T. het Christus egter met sy eie bloed betaal vir ons sonde (vir die wat in Hom glo), en die offer hoef ook nie oor en oor herhaal te word nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In hierdie dagstukkie wil ons egter spesifiek kyk na wat dit is wat die GEWETE onrein maak, en hoe dit weer rein kan word.  "Gewete" is die woord "conscience" in engels, maar in sommige skrifte word die woord "hart" (dit wat iemand bedink, hoe hy iets verstaan - gedagtes, gevoelens) in sommige vertalings gebruik waar dit as "gewete" vertaal sou word in die Afrikaans. Deels gaan "gewete" oor iemand se persepsie en hoe hy dinge verstaan (hoe hy m.a.w. oor dinge dink of dit bedink in sy hart), maar dit gaan ook oor morele bewustheid, (m.a.w. bewus van wat is reg doen of verkeerd doen), bv. Die Hebreers-skrywer vgl. "goeie gewete" met die wat die wil het om moreel goed te lewe (Hebr. 13:18).  Gewete word dus beinvloed deur wat iemand sien as reg en verkeerd. Wanneer iemand iets verkeerd doen of twyfel of dit wat hy gedoen het reg is, dan kla sy gewete hom aan (Rom. 13:3-5; 1 Sam. 24:5,6).
Die wat die wil van God ken, en dit doen!, het 'n "goeie gewete", maar die wat nie Sy wil doen nie, se gewete word besoedel.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Paulus het geweet dat hy in volkome goeie gewete voor God staan, maar sy beskuldigers se persepsie van hom was anders want hulle het nie noodwendig verstaan hoe 'n wet vervul word nie (Hand. 23:1; 24:16).  In hulle persepsie (omdat hulle nie ag gee op die WAARHEID nie) was hulle van mening dat Paulus 'n slegte gewete moet hê, maar eintlik is dit hulle wat die slegte gewete gehad het omdat hulle nie VERSTAAN het nie.  Hier kan ons duidelik sien hoe mense somtyds verkeerd oordeel omdat hulle verkeerd dink/glo/verstaan! - iets wat Christus gedurig uitgelig het, want baie het gedink dat hulle die wet onderhou, tog het hulle dit nie onderhou nie omdat hulle dit verkeerd verstaan het!  Bv., hulle begrip van "naaste" was verkeerd, en alhoewel hulle gedink het dat hulle die gebod nakom, het hulle nie omdat hulle nie verstaan het wie hulle "naaste" is nie.

Die persoon wat wel verstaan, is meer vry en sal noodwendig 'n wet anders vervul as die een wat dit nie verstaan nie (en sal dit ook reg vervul, en sy gewete word dus nie besoedel nie). 'n Verkeerde sienswyse het egter tot gevolg dat die wat iets nie verstaan nie, die een wat wel verstaan verkeerd oordeel en sy vryheid probeer steel (1 Kor. 9:4,5...). Dit is dan ook om hierdie rede waarom hulle gereeld vir Christus Jesus en Sy dissipels verkeerd geoordeel het!

Die "vryheid" waarvan Paulus praat, gaan oor "reinheid omdat iemand se persepsie reg is", en het beslis te doen met die manier hoe wette vervul word in die N.T. (1 Kor. 10:29). Maar ons moet natuurlik ook verstaan wat met hierdie "VRYHEID" bedoel word, want op geen stadium verwys die vryheid vd Christen na bv. "vry om te sondig" of "vry om afgode te aanbid" of "vry om deel te neem aan afgodspraktyke" ens. nie... (Om meer te verstaan wat dit beteken om vry te wees, gaan na: http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/05/wie-is-nie-onder-die-wet-nie.html). Paulus het 'n goeie gewete gehad OMDAT HY GEHOORSAAM WAS AAN DIE GEES VAN GOD - ons moet verstaan dat dit is waaroor "vryheid" (in die Gees) gaan!;  vry in die sin van: -"gehoorsaam aan die Gees" (nie aan die wet nie, want die wat die wet dien, "verstaan" nie noodwendig wat die Here se wil is nie!) Die vleeslike mens kan nie die geestelike dinge verstaan nie. Bv., soos hierbo verduidelik:  "die manier hoe die vleeslike mens verstaan 'n wet vervul moet word, is nie noodwendig hoe die Here wil hê dit vervul moet word nie".  Alhoewel dit wil voorkom asof wette "anders vervul word in die N.T.", moet ons natuurlik verstaan dat dit ook meer te doen het met die feit dat wette 'n sterker betekenis het in die N.T. - en 'n meer geestelike betekenis! (wat slegs die geestelike mens verstaan).  Maar as iemand nie "reg verstaan" nie, dan sal hy miskien dink dat hy die wil van God doen en 'n goeie gewete het, maar in werklikheid kom hy dan nie Sy wet na nie omdat hy nie verstaan HOE dit vervul word nie, en sy gewete besoedel.

Die wet is NIE tot niet nie! (Matt. 5:17,18). Dit is bv. wel so dat iemand onrein kon word deur sekere voedsels in die O.T., maar in die N.T. het hierdie wette 'n meer geestelike betekenis en moet steeds vervul word, maar op 'n "ander manier" - altans, Christus het vir ons kom wys HOE dit vervul moet word, en Hy gee aan ons Sy Gees sodat ons VERSTAAN HOE dit vervul word. In daardie sin het die Christen meer vryheid (omdat die wet somtyds "anders" vervul word volgens die wil van die Here), maar dit beteken nie dat ons nie wette het nie, want dit gaan oor HOE die wet vervul word!, en "vryheid" gaan oor "gehoorsaamheid aan die Gees".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Bv., Hy het geleer dat dit nie dit wat in die mond ingaan wat iemand onrein maak nie, maar dit wat uit die mond, uit die hart uit, uitkom! (Mat 15:17,18).
Om meer hieroor te leer, gaan na:
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2016/11/die-eet-van-rein-en-onrein-diere.html.  Net soos die gelowige in die O.T. moes let op watter dinge dit is wat hom onrein maak (en moes kennis hê van wat is rein en wat is onrein), net so moet die Christen in die N.T. steeds bedag wees daarop en let op wat in sy hart aangaan. Wat is dit wat in sy hart is wat hom onrein maak? Wat is dit wat uit sy mond uit kom wat getuig van wat in sy hart aangaan?  (Matt. 15:11,18,19; Luk. 6:45; 1 Kor. 6:13; Kol. 2:21,22; Jak. 3:6; Spr. 15:28...).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Maar natuurlik mag die geestelike mens nooit toelaat dat sy vryheid vir ander wat swak is (m.a.w. die wat glo iets is verkeerd, al is dit reg) 'n struikelblok wees nie... (1 Kor. 8:9).  Die Christen se liggaam kan bv. nie besoedel word deur die eet van afgodsoffers nie, maar in die geval van waar die eet van afgodsoffers gepaardgaan met die kennis dat dit afgodsoffers is, kan die een wat sterk is wat daarvan eet, iemand anders laat struikel, en so word die persoon se gewete beinvloed! (1 Kor. 10:29; 1 Kor. 8:7). Daarom kan 'n Christen enige iets eet wat in die slaghuis verkoop of vir hom voorgesit word, sonder om navraag te doen (1Kor. 10:25,27), MAAR sou hy bewus gemaak word daarvan dat iets aan 'n afgod geoffer is, dan moet hy dit vermy ter wille van die ander persoon (1 Kor. 10:28), want sou hy dit nie doen nie, dan sal sy gewete onrein word.  Deur gehoorsaam te wees aan die Gees, sal die Christen die wet op die regte manier vervul (Hebr. 8:10; 10:16) - maar as hy die wet gehoorsaam en dooie werke dien, dan sal hy 'n slegte gewete ontwikkel omdat hy reken dat hy dit vervul, maar eintlik nie! (omdat hy nie verstaan HOE dit vervul moet word nie).  Die persoon wat reken dat sekere kosse hom nie geoorloof is nie, se gewete sal hom beslis aankla sou hy hier oortree. Sou hy egter tot insig kom en Christus se woorde in ag neem wat Hy geleer het dat dit nie dit is wat in die mond ingaan wat iemand onrein maak nie, maar dit wat uit die mond uitgaan, dan gaan sy persepsie verander. Sou hy nog onkundig wees van hierdie belangrike waarheid wat Christus vir ons kom leer het, dan gaan hy heeltyd die dooie werke dien en staatmaak daarop ter wille van 'n goeie gewete - die probleem hiermee is dat hy sy hoop plaas in dooie werke en na regte eintlik 'n slegte gewete verkry omdat hy staatmaak op dooie werke...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


"DOOIE WERKE" BESOEDEL DIE GEWETE en maak dus die gewete ONREIN (Hebr. 9:14). Dit is duidelik dat die offersisteem in die O.T. in die wet van Moses nie volkome was nie, want alhoewel die bloed van stiere en bokke die vlees van baie sondes kon reinig (en heilig maak)(Hebr. 9:13), kon dit nie die GEWETE heilig maak nie;  en hulle harte was dus VERDEELD op wie hulle dien - m.a.w., beide die wet en die Here (of die wet, of die Here)..  Terwyl hulle besig was om die wet te dien, was hulle besig om dooie werke te dien (Hebr. 9:14) omdat hulle nie noodwendig die wil van God verstaan het nie.  In geval van "dooie werke" dink iemand dat hy die Here dien, maar is ongehoorsaam aan die Here omdat hy glo (gewete/die manier "hoe hy sien") gehoorsaamheid slegs geskied deur gehoorsaamheid aan die wet.

Die wat in Christus Jesus glo, dien nie meer die wet nie, maar het deel aan die nuwe testament....... (Hebr. 9) - dus, die wat die Gees van God het, verstaan wat Sy wil is! (in daardie sin dien hulle Hom, nie die wet nie). Omdat hulle hul tot Christus Jesus bekeer het, gee Hy aan hulle Sy Gees en SKRYF SY WETTE OP HULLE HARTE sodat hulle VERSTAAN wat Sy wil is!  Hulle "sien" reg, en sal outomaties wette anders vervul as die wat dooie werke dien.  (2Kor. 3:6 - "wat ons ook bekwaam gemaak het as DIENAARS van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend").  

DIE MANIER HOE DIE GEWETE GEREINIG WORD, IS OM DIT TE REINIG VAN DOOIE WERKE! (Hebr. 9:14).  Hierdie is iets wat die Here doen in die Christen se gewete en hart, deur Sy Gees, en hulle begin dink en "sien" anders as tevore;  Alhoewel "bekering" ook nodig is van die mens se kant af ! (en reiniging vd gewete dus slegs plaasvind vir die wat in Christus Jesus glo) - m.a.w., bekeer van die manier hoe jy "sien" tot die manier hoe die Here "sien";  - m.a.w., glo in Christus en glo in Sy leringe/woorde;  - m.a.w., neem Sy WAARHEID aan!  Wanneer iemand se gewete gereinig word, dan begin hy om te sien soos die Here sien.  Maar as hy steeds vasklou aan ou of  wereldse sienswyses of die sienswyses van die wat "die wet dien", dan word die gewete (weer) BESOEDEL.  Om "vry te wees in die Gees" gaan daaroor dat jy "gehooraam is aan die Gees"!  Dus, as die Here jou denkwyse verander maar jy teruggaan na die ou denkwyses van die wet, dan IS jy NIE VRY NIE,  omdat jy dan eerder gehoorsaam is aan die wet as aan die Gees.  Het jy 'n rein gewete?  (is jy gehoorsaam aan die Gees?).  Of het jy 'n onrein gewete? (dien jy dooie werke?).  
Gaan dit oor jou sienswyse?, of soek jy na die WAARHEID?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Dinsdag 01 November 2016

Die eet van rein en onrein diere

In die O.T. sou die wat onrein diere eet, hulleself verontreinig (Lev. 11:43). Die vraag oor of dit toelaatbaar is vir die Christen om onrein diere te eet, is iets wat al baie redenasie uitgelok het onder geleerdes. Eerstens moet ons onderskei tussen WETTE wat deur die Here gegee word, en MENSLIKE GEBOOIE. Mensgemaakte wette moet nie gesien word soos wette v/d Here nie.  Paulus verwys na sulke leringe as 'n skyn van wysheid wat in "eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, GEEN WAARDE HET NIE" (Kol. 2:20-23). Daar is plekke waar menslike gebooie wel gehoorsaam moet word (soos in die geval van kinders teenoor ouers se wette), maar die konteks van Kol. 2:20-23 gaan oor waar mensgemaakte wette gesien word as nodig "tot aanneming tot kinders van God", - in so 'n geval moet dit gesien word as 'n skyn van wysheid wat geen waarde het nie. Bv., die skrifgeleerdes en Fariseers het verkeerdelik geglo dat hulle menslike gebod wat gaan oor "handewas voor ete" deur die Here verwag word, asof hulle nie aangeneem sal word as hulle nie die gebod nakom nie... (Matt. 15:2-9).
----------------------------------------------------------------------------------------------------------- "Wette van die Here" moet egter gehoorsaam word, maar dit is juis wat die onderwerp van die eet van rein en onrein diere so ingewikkeld maak...  (Lev. 11; 20:25...), maar wat ons moet onthou is dat wette (wat deur die Here gegee word oor wat rein en wat is onrein), gaan beslis oor wat Hy as rein of as onrein verklaar, en "wanneer".  En kan terloops anders vervul word in verskillende tydperke oor "tyd" afhangende van wat die Here wil en toelaat.  Om dit beter te verduidelik verwys sommige Christelike kerke hierna as "bedelings". Nie dat die Here se wette ooit tot niet gaan nie, maar dit word baiemaal anders vervul in verskillende tydperke. Bv., in die tydperk voor "Noag se ark" wil dit lyk of die mens nie toegelaat was om enige vleis te eet nie (Gen. 1:29,30);  tog, in die tydperk nadat die ark gestrand het, was hulle toegelaat om vleis te eet (Gen. 9:3) - maar l.w. Gen 9:4 - "Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie"(Lev. 7:26). Hierdie feit dat ons geen bloed mag eet nie, is ook iets wat in die N.T. beveel word (Hand. 15:20,29; 21:25) - in konteks gaan die eet van bloed egter nie oor die tema van "voedsel" nie, maar oor die feit dat die siel in die bloed is (Gen. 9:4-6).  Hulle is dus toegelaat om diere (wat ook 'n siel het) dood te maak sodat hulle die vleis kon eet, maar net nie met die siel nie! (Lev. 17:11,14). Christene wat bloed eet, word verseker onrein daardeur... nie omdat hulle nie "die wet" gehoorsaam nie, maar omdat hulle "sondig". Alhoewel die mens in Gen. 9 alreeds die kennis gehad het van wat is rein en wat is onrein diere, vind ons tog nie daar 'n rekord van waar hulle belet word om onrein diere te eet nie (alhoewel slegs rein diere geoffer was). Toe later, in die tydperk v/d volk in die woestyn en daarna, het daar heelwat ander koswette bygekom (Lev.), o.a. die feit dat geen onrein diere geeet mag word nie (Lev. 5:3; 11:24,43,44; Dan. 1:8...).  Daar was natuurlik ook baie MENSGEMAAKTE  WETTE onder die volk wat, alhoewel hulle geglo het dat daardie dinge hulle onrein maak, dit tog nie so was nie (soos die kwessie van handewas voor ete...). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Jesus het ook hierdie onderwerp aangehaal en geleer dat niks wat ingaan in die maag, iemand ONREIN kan maak nie, maar slegs dit wat in die hart is van die mens:  (Mar 7:18,19 - "En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie,  omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maagen dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein?
(Mar 7:20)  En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein.
(Mar 7:21)  Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord...  Alhoewel hierdie stelling gemaak is in konteks met "mensgemaakte gebooie" (onreinheid a.g.v. eet met ongewaste hande), is dit tog duidelik volgens die Here se verduideliking dat Hy ook verwys het na "voedsel" - Mark. 8:19; maw, dat geen voedsel "wat van buite af in die mens ingaan hom onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in sy maag".... As iemand gedagtes van sonde koester, dan is dit dit wat in sy hart aangaan - m.a.w., ek moet ondersoek wat is die oorlegginge en gedagtes van my hart? (Hebr. 4:12,13).  Dit is hierdie gedagtes waardeur hy onrein (besoedel) kan word (Ef. 4:19-20). (Vgl. dit met Mat 5:28 - "Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het). 

En alhoewel die eet van bloed iets is wat ingaan in die maag, maak dit iemand nie onrein omdat dit "voedsel" is nie, maar omdat die persoon "die vleis eet met die siel".  Dieselfde met afgodsoffers:  dit is nie die voedsel wat die persoon onrein maak nie (1 Kor. 10:19), maar die feit dat hy deel in 'n offer wat gemaak is aan afgode (eintlik aan duiwels gemaak), en hy eet dit saam met die persoon wat dit offer asof hy ook waarde heg aan die afgod. In so 'n geval het hy saam met die persoon wat dit offer "gemeenskap met duiwels"! (1 Kor. 10:20). In die gevalle van "bloed eet" "of dit wat verwurg is", en "die eet van afgodsoffers" gaan dit dus nie oor voedsel nie, maar oor die GEWETE (1 Kor. 8:7) - vgl. (Lev. 17:14; Lev. 19:29; Jer. 3:9; 13:27 ) met (1 Kor. 10:18-20; Hand. 15:29; 21:25; Openb. 2:14,20)(Rom. 14:3,15,20; Hand. 21:25...).   ----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Wette wat deur die Here gegee word, is nie iets wat tot niet gaan nie, maar kan wel verskillend vervul word in verskillende tydperke afhangende van hoe die Here besluit.  Dit is nie ons wat besluit wat is rein, en wat nie. En wat die Here rein maak, mag ons nie onheilig ag nie (Hand. 10:15). Hierdie feit  is iets wat die Here vir Petrus gese het toe Hy vir hom in 'n verrukking van sinne 'n groot laken wys met die onrein diere en beveel om dit te slag en te eet, maar Petrus het geweier omdat dit onrein diere was. Alhoewel dit wat die Here vir hom hier wou leer meer gegaan het oor "hoe ons geen mens onheilig moet noem nie" (en moet asb. verstaan waarna dit verwys, want dit beteken nou nie dat almal heilig is nie!), is die slotsom nie uitgeskakel dat hierdie ook kan verwys na watter voedsels vir ons geheilig (afgesonder) is nie - nie dat dit sou beteken dat onrein diere nou rein is nie, maar eerder dat die eet van sulke vleis ons nie onrein kan maak nie. Dit is ook interessant om te sien dat die dissipels, gelei deur die Heilige Gees, in Hand. 15 (alhoewel die konteks gegaan het oor die besnydenis en aanneming tot kinders) tot die slotsom gekom het dat hulle nie die Christene uit die heidene onder die wet van Moses moet plaas (wat betref wette rondom wat is rein en wat is onrein in die konteks van aanneming) nie, maar het hulle eerder gewaarsku teen dinge soos die eet van bloed en wat verwurg is, en die eet van afgodsoffers... - dinge wat nie regtig gaan oor die onderwerp van "eet van voedsel" nie, maar meer gaan oor die 
besoedeling v/d gewete en 
besoedeling deur sonde (want in Hand. 15:29 word hulle ook gewaarsku teen sonde soos hoerery) Inteendeel, die rede waarom daar nie van die Christen mans uit die heidene verwag word om hulle vleeslik te laat besny nie, is omdat dit hulle juis sou plaas onder die HELE wet van Moses! (Gal. 5:2,3).  

Ook volgens Rom. 14:20 is alle voedsel REIN om te eet!  Dit beteken nie dat daar nie meer iets bestaan soos rein en onrein diere nie, maar gaan oor die feit dat dit wat ingaan in die maag, jou nie onrein maak nie (Matt. 15:17);  inteendeel,  alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie! (1 Tim. 4:4 - en l.w. dat hierdie gese is in konteks met dinge wat verkeerdelik verbied was deur sommige leermeesters, soos o.a. "sekere voedsels"). (1Kor. 6:13 - "Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam").  (Rom 14:20 - "Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir ‘n mens om te eet as dit tot aanstoot is") - Alle voedsel is wel rein vir die Christen (en l.w., spesifiek hier bedoel in konteks met VOEDSEL, nie met sonde nie!), maar weer-eens hier is die rede waarom ons verbied word om sekere kosse te eet, nie a.g.v. die feit dat sekere diere onrein is nie, maar dit gaan hier oor voedsel wat geeet word wat "tot aanstoot" is. 

Ons is dienaars van 'n nuwe testament, NIE VAN DIE LETTER NIE, maar van die gees.  In die Nuwe Testament word wette anders vervul as in die oue.  Jesus Christus het hierdie N.T. ingelyf deur Sy dood en opstanding (Hebr. 9; 12:24; Matt. 26:28; Mark. 14:24;  Luk. 22:20; 1 Kor. 11:25; 2 Kor. 3:6; ...). In hierdie "bedeling" is daar ook wette net soos in elke tydperk voor ons, maar hoe word die wette vervul in hierdie bedeling? Dit is ook belangrik om te sien dat mense in die O..T. ook nie altyd verstaan het "hoe" 'n wet vervul moet word nie, en Jesus het dit verskeie male uitgewys in Sy bediening en het juis kom leer "hoe verkeerd hulle sien" (vgl. gerus hierdie met die onderwerp van "besnydenis v/d hart")(Luk. 10:25-29; 18:18-24; Matt. 13:15; Mark. 8:18;...). Omdat die Christen die Gees van God het en "besny is na die hart", is dit vir hom moontlik om beter te verstaan "hoe" die Here se wette vervul word;  en saam met dit het Jesus Christus (en die apostels) vir ons die waarheid gebring oor wat Hy van ons verwag in hierdie Nuwe Testament tydperk.  

Ook in  Kol. 2:20-23 waar daar gepraat word met die "Christene uit die heidene", word (net soos in Hand. 15) hulle nie geleer oor watter diere geeet of nie geeet mag word nie, maar eerder die volgende geleer:   "Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie" - Kol. 2:16..  Alhoewel dit lyk of Kol. 2:20-23 eerder handel oor "wereldse wysheid", is ook die onderwerpe van besnydenis en feeste en sabbat aangehaal;  dus handel die konteks nie net oor wereldse wysheid nie, maar ook oor wette wat uit die wet van Moses kom...  Daarom moet hy wat eet, hom wat nie eet nie, nie verag nie; en moet hy wat nie eet  nie, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem (Rom. 14:3). Dit wat iemand eet kan hom nie onrein maak nie, tensy sy gewete hom aankla (Rom. 14:15,20).  Met die slotsom van Hand. 15:20 is die "Christene uit die heidene" geensins onder die wet van Moses geplaas (in die sin van wat hulle rein of onrein maak) nie, maar eerder wette gegee rakende "rein hou van sonde" en om toe te sien "dat hulle nie hulle gewetens besoedel nie".
_________________________________________________________________________________