Wys tans plasings met die etiket uur van beproewing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket uur van beproewing. Wys alle plasings

Donderdag 10 Augustus 2017

Waarna verwys "die sleutel van Dawid"?

Daar is slegs 2 skrifte in die Bybel wat na "die sleutel van Dawid" verwys:
-Jes. 22:22 - "En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie". 
-Openb. 3:7 - "En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie". 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Dit is duidelik dat daar 'n verband is tussen hierdie twee skrifte, en soortgelyke spraak word in beide gebruik. Om te verstaan waarna Christus verwys het in Openb. 3:7 (in Sy brief aan die gemeente van Filadelfia waarin Hy verklaar dat HY die sleutel van Dawid het) moet ons natuurlik na die konteks van Jes. 22 gaan kyk.  "Sebna" was 'n bestuurder wat oor die paleis (van Dawid) aangestel was. In sy pos as bestuurder, het hy die mag en outiriteit gehad om oop te maak en toe te sluit, m.a.w. hy het die sleutel (van die huis van Dawid) gedra. Maar die Here was nie tevrede met Sebna nie, en het die pos van hom weggeneem en aan 'n ander gegee... (nl. aan Éljakim - Jes. 36:3). Wat dit beteken is dat die mag en outoriteit wat Sebna gedra het, van hom weggeneem is en aan 'n ander gegee is, m.a.w. "die sleutel van Dawid" is van hom weggeneem en aan 'n ander gegee.  
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Ons kan dus opsom deur te sê dat die persoon wat die mag en outoriteit het ook die een is wat in besit is van die sleutel van Dawid!  Christus Jesus het die sleutel van Dawid - Hy is die Een met die mag en outoriteit om toe te sluit of oop te maak (http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/03/die-koninklike-geslag-uit-die-stam-van.html).  In Openb. 3:7 gebruik Hy hierdie beeldspraak met die doel om 'n ander belangrike punt te maak:  (Openb. 3:7,8 - "En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:  Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie").  Hiermee verklaar Hy dat Hy die mag het om die deur vir iemand te sluit, of om dit oop te maak... Hierdie feit is nogal iets wat in sekere gelykenisse ook aangehaal word - kyk bv. die gelykenis van die 10 (diens)maagde (Matt. 25:1-13), waar Jesus Christus die deur sluit sodat 5 van hulle nie kan ingaan nie.

Wanneer ons die brief aan die gemeente van Filadelfia lees, sal ons ook vind dat Hy hulle verder wil BEWAAR in 'n spesifieke "uur", die "uur van beproewing (versoeking) wat oor die wêreld kom" (nie noodwendig dat hulle dit sal vryspring nie, maar as hulle daardeur gaan, sal Hy hulle die krag en oorwinning gee om vas te staan). Ons moet natuurlik verstaan wat met die woord "beproewing" bedoel word (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/bewaar-in-die-uur-van-beproewing.html), en verstaan watter gevolge dit op iemand kan he, en sal dan ook verstaan hoekom die Here hulle wil bewaar in daardie "uur" (http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/08/die-uur-van-beproewing-wat-oor-die-hele.html). Hy het die deur vir hulle oopgemaak, en Hy sal nie toelaat dat daardie tydperk van beproewing hulle beinvloed sodat die deur vir hulle gesluit word nie - m.a.w., niemand sal die deur vir hulle kan sluit nie! Nou ons weet goed dat dit in tye van versoeking/beproewing is wat baie AFVAL, maar die Here besluit watter deure gesluit word en watter oop bly, en Hy kyk na die hart.  Baie wat deur die uur van beproewing gaan, sal vind dat die deur vir hulle gesluit is wanneer Christus terugkom omdat hulle nie GEREED was nie - moontlik omdat hulle afgeval het in die tyd van beproewing... (m.a.w., hulle het nie soos hierdie gemeente 'n "geopende deur" nie).  Dus, nie alle Christene sal noodwendig deur die "uur van beproewing" gaan nie, of meer presies, as hulle daardeur gaan, sal hulle "opgepas" word sodat hulle nie "val" nie. Ons moet natuurlik nou nie dink dat dit bedoel dat die wat 'n geopende deur het glad nie verdruk gaan word nie!\ - nee, want dit is duidelik dat die gemeente van Filadelfia weet wat dit is om te ly terwille van die woord... (v.8,10). Die uur van beproewing gaan oor "om getoets te word".  Die woord "beproewing" beteken nie "verdrukking" nie; alhoewel beproewing (om getoets te word) daartoe kan lei dat iemand moontlik verdruk word as gevolg van die feit dat hy nie afgeval het in tyd van beproewing nie. 

(Luk 13:23)  Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle:
(Luk 13:24)  Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.
(Luk 13:25)  Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir ons oop—sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------