Sondag 14 Desember 2014

Die wonderlike werkinge van die Gees van God!

Iets wat duidelik te sien is in die kinders van die Here, is die werkinge van die Heilige Gees in en deur hulle lewens;  hoe die Gees die mens verander in 'n ander mens! (1 Sam. 10:6);  hoe die dienskneg (of diensmaagd) van die Here gedurig onderrig word deur Sy Gees (Neh. 9:20); en wysheid en waarheid van bo aan hom geopenbaar word (Luk. 1:41, Mark. 12:36, Luk. 1:67, 2:25-27);  hoe die Gees hulle lei om te weet wat om te doen, wanneer om dit te doen (Matt. 4:1); en hoe hulle krag kry deur die Gees om te kan getuig (Matt. 10:20) en in verskillende gawes en bedieninge stap volgens wat die Gees wil, 
en volgens wat nodig is (1 Kor. 14)...  

In die Ou Testament was God se Gees nie op al Sy dienaars uitgestort nie.  Die volk van God was bv. "diensknegte" van God genoem, tog het net sekeres van die volk die Heilige Gees ontvang, die Here Jesus se koms het dinge verander - die Messias het die Gees van God op Hom gehad...en Hy sou ook die Gees aan AL Sy diensknegte en diensmaagde gee!  Nog voor Sy kruisiging, opstanding en opvaarding, het Hy prontuit verklaar dat Hy vir hulle die Gees van die waarheid sou stuur (Joh 15:26 - "Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig").  Hierdie was vir baie eeue geprofeteer, en iets waarna die volk uitgesien het - dit sou nie net 'n wonderbaarlike gebeurtenis wees nie, maar ook 'n bewys dat Hy inderdaad die Messias was!  

(Hand. 2:32,33 - "Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor").

Die wat wel die Gees van God ontvang het in die Ou Testament, was die wat bekwaam gemaak was om spesifieke werke vir die Here te doen,  om Sy wil aan die volk bekend te maak en hulle te waarsku waar hulle verkeerd gaan (2 Sam. 23:2).  Kyk na voorbeelde van profete soos Samuel, Esegiel, Daniel, Jesaja ens. - hulle het die wil van God aan die mense bekend gemaak, die volk gewaarsku wanneer hulle verkeerd gaan, en somtyds ook geweet wat in die toekoms sou gebeur (2 Kron. 24:20; Neh. 9:30; Num. 27; 2 Kron. 15:1).  Daar was ook profete soos Elia en Elisa wat baie wonderwerke gedoen het.  Ander voorbeelde was sekere konings, soos koning Dawid en koning Salomo - die Here het baie wysheid vir hulle gegee, deur Sy Gees, sodat hulle Sy kon volk lei;  om daardie rede het die Gees van God bv. ook op mense soos Moses gerus.  Nog ander vb.e van mense wat die Gees van God op hulle gehad het, was bv. Besáleël - sodat hy wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid kon kry vir allerhande werk in die tabernakel (Eks. 28:3; 31:3; 35:31). IN ALLE GEVALLE, WAAR IEMAND DIE GEES VAN GOD ONTVANG HET, WAS DIT SPESIFIEK MET DIE DOEL OM INSTAAT TE WEES OM TE KAN DOEN WAT DIE HERE VAN HULLE VERWAG (om bv. te getuig of vir wysheid sodat hulle die volk kon lei, of vir kennis en bekwaamheid...), OF SODAT HULLE DIE HERE SE WIL BEKEND KON MAAK (Sy planne), EN DIE VOLK TERUGROEP NA HOM wanneer hulle afgedwaal het.  - http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/06/wat-het-jesus-bedoel-met-die-woorde.html
Ons lees in baie skrifte (in die O.T.) van hoe die Gees van God op iemand kom, of hom vervul het, en hy dan presies WEET WAT OM TE DOEN IN 'N SPES. SITUASIE (sodat hy bv. die volk kon rig, of in oorlog lei ens. - Rig. 3:10; 6:34; 11:29; 13:25; 1 Sam. 11:6),  ASOOK OM DINGE TE DOEN WAT 'N GEWONE MENS NIE KAN DOEN NIE, deur die hulp van die Here se Gees (Rig. 14:6,19; 15:14).  
_________________________________________________________________________________


GEDAGTE:

MAAR die persoon wat die Gees van God het, is absoluut afhanklik van WAT DIE HERE WIL DOEN, EN WANNEER HY DIT WIL DOEN - dit gaan nie oor besonderse krag en wysheid wat die mens nou kry OM TE DOEN WAT HYSELF WIL NIE, maar gaan oor gehoorsaamheid aan die Here (m.a.w. "doen" uit diensbaarheid aan die Here). 

Wat help dit die Gees gee vir iemand 'n opdrag, maar hy voer dit nie uit nie?  Hoe kan hy dan die krag van die Here sien werk?  
Wat help dit die Gees gee vir iemand opdrag om die waarheid met iemand te deel, maar hy doen dit nie?  Hoe kan hy dan getuig?  
Dit is die persoon wat GEHOORSAAM is wat die geloof het.  Ten spyte van al die dinge wat Simson kon doen deur die Gees van die Here, was hy steeds onderwerp aan die Here se wil, wat Hy, wanneer Hy wil doen en hoe Hy dit wil doen (Rig. 15:18,19) - hy kon (deur die krag van die Gees) 1000 man doodslaan met een eselskakebeen, maar moes eers vir die Here vra vir 'n volgende wonderwerk sodat hy nie van dors doodgaan nie...  Dit gaan nie oor "geloof in wat ons glo moet gebeur nie, of wil he moet gebeur nie", maar geloof in wat die Here wil doen - m.a.w. gehoorsaamheid. 
 (1 Kor. 12:11 - "Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil").http://warechristene.blogspot.co.nz/2011/10/bedieninge-en-gawes.html

OM DIE GEES VAN GOD TE ONTVANG, EN SY KRAG TE ONTVANG, GAAN JUIS OOR DIENSBAARHEID!  HY GEE SY GEES AAN SY DIENSKNEGTE EN DIENSMAAGDE.  (Waar iemand egter reg begin, die Gees ontvang, maar dan kies om nie meer die Here te DIEN nie, maar hulle eie wil te dien, is dit baie gevaarlik!).
_________________________________________________________________________________
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/08/die-gees-van-god-1.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.