Vrydag 19 Desember 2014

Wie ontvang die Heilige Gees?

'n Vraag wat deur baie gevra word, is of almal wat bely dat hulle glo, die Heilige Gees ontvang?  
Baie gelowiges is eenvoudig van mening dat almal wat GLO, die Gees van God in hulle het; ander glo weer dat almal wat deur die CHRISTELIKE DOOP gegaan het, die Gees van God het; en ander glo weer dat iemand slegs die Gees kan ontvang deur handoplegging...  Die waarheid is dat alhoewel geloof en Christelike doop deel is van die voorwaardes om die Gees te ontvang, dit nie soos wette gesien moet word asof die ontvang van die Gees te doen het met "wat ons doen", in plaas van "wat die Here wil doen" nie!  God kyk na die hart !, en sien wie dit is wat regtig glo, want dit sal die wees wat Hom gehoorsaam.  Hy sien wie dit is wat hulle regtig bekeer het, nie slegs bely het dat hulle hul bekeer het nie.  Ons moet die voorwaardes nakom, ja, maar dit moet opreg wees, nie soos wette gedien word nie. Waar 'n "Christen" bv. leef soos die wereld en dink dat geloof gaan oor om wette na te kom, is hy nie besig "om die Here te dien" nie maar "die wet" te dien.

-  En kyk ons na voorbeelde in die Skrif, is dit duidelik dat iemand wel kan bely dat hy glo en deur die Christelike doop gaan, maar nog nie noodwendig die Heilige Gees ontvang het nie!  Kyk die vb. van sekere gelowiges in Hand. 19:1-6 wat wel dissipels was, maar nog nie die Gees van God ontvang het nie;   en Hand. 8:15 en 16 van gelowiges wat wel al gedoop was in die Naam van die Here Jesus, maar op wie die Heilige Gees nog nie geval het nie!?  Hulle het die voorwaardes nagekom van om "te bekeer" en "te glo" en "deur die Christelike doop" te gaan, maar het nie die Heilige Gees outomaties ontvang nie!  Nee, want "die wind waai waar hy wil...".  Die Here sal iemand wederbaar deur Sy Gees, wanneer Hy wil, op Sy tyd (nie op ons tyd nie). Die Here kyk na of iemand "wette dien", en of hulle vir "Hom dien", en Hy stort Sy Gees uit op Sy DIENsknegte, en DIENsmaagde (die wat Hom dien).  Daarom, alhoewel gehoorsaamheid, bekering, geloof, doop en gebed voorwaardes is om die Gees van God te ontvang, en die ontvang van die Gees somtyds geskied deur handoplegging, is dit nie noodwendig die manier "hoe" iemand gebore word uit God se Gees nie - God sal Sy Gees gee aan wie Hy wil, nie soos ons dit bestel nie!  


Kyk ons ook na die voorbeeld van Hand. 10, is dit duidelik dat iemand nie outomaties die Gees ontvang omdat hy glo nie - en l.w., ook duidelik volgens hierdie skrifgedeelte, ontvang iemand nie slegs deur handoplegging die Gees van God nie!   Jesus het dit as volg verduidelik:   Joh 3:8 - "Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. "Die wind waai waar hy wil..." - dit is nie almal wat bely dat hulle glo, wat die Gees van die waarheid ontvang nie.   Inteendeel, daar is sommige Christene wat die gees van dwaling ontvang!  Die belofte van die Heilige Gees (die Gees van God, Gees van die waarheid) (wat reeds gegee is eeue voor die uitstorting van die Heilige Gees - Joël 2:29) was ook vir die Nuwe Testament net aan sekere mense belowe, nl. die "diensknegte en die diensmaagde", en die Here besluit wanneer Hy iemand vul met Sy Gees. 
---------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Nie almal ontvang die Gees van die waarheid nie, maar sommige ontvang die "gees van die dwaling" - die manier hoe Johannes vir ons leer, hoe ons kan onderskei tussen wie die Gees van God het en wie die gees van die dwaling het, is deur te kyk wie DIE WAARHEID liefhet.  Die wat werklik vir God KEN, luister na die waarheid! Hulle verander nie die waarheid in ongebondenheid nie, en gee ag op wat die Here Jesus vir ons beveel en geleer het.  Vir hulle gaan dit nie oor "wat die kerk leer" nie, maar oor wat die Here vir ons geleer het! (en dit is veronderstel om te wees wat die kerk ook leer).

(1Jn 4:6 - "Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling").
================================


http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/12/die-gees-van-god-2.html

WIE ONTVANG DIE HEILIGE GEES?:
(1)  DIE WAT VIR HULLE HEMELSE VADER VRA IN GEBED (Luk. 11:13)
(2)  DIE WAT IN HOM GLO (Joh. 7:39)
(3)  DIE WAT HULLE BEKEER EN LAAT DOOP (Hand. 2:38; 
(4)  DIE WAT GEHOORSAAM IS AAN DIE HERE JESUS CHRISTUS (Hand. 5:32)(1 Joh. 3:10)
        (M.A.W. SY DIENSKNEGTE EN DIENSMAAGDE)

- DIE WERELD KAN HOM NIE ONTVANG NIE - (Joh 14:16,17 - "En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees")  - DIE PERSOON WAT BELY DAT HY "GLO", MAAR NIE GEHOORSAAM IS AAN DIE HERE JESUS CHRISTUS NIE, HOM NIE REGTIG BEKEER EN DIE HERE KEN NIE, KAN NIE STAATMAAK OP DIE ONTVANG VAN DIE GEES NIE, want so iemand is nog "in die wereld"!  



==================================================

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.