Dinsdag 08 Maart 2016

Wat is die verskil tussen Wetend en Onwetende sondes

Alhoewel dit snaaks klink, is dit tog moontlik vir iemand om in sonde te stap sonder dat hy besef hy is eintlik besig om te sondig.  Dit is bv. maklik te sien by klein kindertjies wat verkeerd doen maar nie besef wat hulle doen is verkeerd nie, soos om iemand in die gesig te klap - vertel jy hom dat dit nie so hoort nie, dan verkry hy die kennis dat dit verkeerd is. Nou, as hy dit 'n volgende keer doen, sien hy dit "as verkeerd" want hy het nou tot kennis gekom.  Jy sal bv. nie met 'n kind raas wanneer hy onwetend sondig nie, maar hom liewer tot insig bring en aan hom verduidelik dat dit wat hy doen eintlik verkeerd is en dalk selfs verduidelik hoekom dit verkeerd is. Kinders van die Here het ook nodig om te leer "wat die wil van die Here is". Ons is baie geduldig met klein kindertjies omdat hulle nog nie goed weet om te onderskei tussen reg en verkeerd nie en verstaan goed dat hulle EERS TOT INSIG GEBRING MOET WORD voor hulle self die onderskeiding kan maak. Op dieselfde wyse moet ons ook geduldig wees met die wat nog nie kan onderskei tussen reg en verkeerd nie en verstaan dat hulle eers tot insig gebring moet word. Die Here is ook meer barmhartig teenoor die wat in onwetende sonde stap;  net soos ons ook meer barmhartig is teenoor 'n kind wat onwetend sondig en bring hom daarom eerder tot insig as om hom te vermaan, maar wanneer hy tot insig gebring is, word daar natuurlik gehoorsaamheid verwag!  'n Ongehoorsame kind, aan die ander kant, (m.a.w. die een wat wetend sondig) het alreeds die kennis en moet eerder herinner of vermaan word as wat hy tot insig gebring word.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die persoon wat wetend sondig, kan ook barmhartigheid ontvang, ja, maar moet op 'n ander manier gelei word tot bekering van sy sonde. Dit beteken nou nie dat die persoon wat onwetend sondig onvoorwaardelik vergewe word (soos baie glo) nie! (http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/05/wat-word-bedoel-met-onwetende-sonde.html).  Nee, daar word steeds van hom ook verwag om te bekeer, maar die manier hoe dit gedoen word is anders as in die geval van waar iemand wetend sondig.  
Altwee moet m.a.w. tot bekering gelei word:
-  die onwetende moet eers die kennis kry (hy kom dus tot kennis oor wat die wil van die Here is, maar nou moet hy kies om Hom gehoorsaam te wees)(net soos 'n kind kennis kry oor wat die wil van sy ouers is en nou moet kies om hulle gehoorsaam te wees);
-  die wetende moet herinner of vermaan word (hy weet reeds wat die wil van die Here is, maar het nie daarop ag gegee nie, en omdat hy nie gehoorsaam is aan die Here nie, word daar nou van hom verwag om 'n wet te gehoorsaam, want 'n wet geld nie vir die wat gehoorsaam is nie, maar vir die wat ongehoorsaam en wetteloos is -1 Tim.1:8-10 - as hy ook kies om nie die wet te gehoorsaam nie, dan word hy gestraf!, en sal onder oordeel kom, net soos die wat nie die wet van Moses gehoorsaam het nie, onder vloek van die wet gekom het) (op dieselfde wyse is dit soos 'n kind wat sy ouers se wil ken, maar omdat hy gekies het om nie gehoorsaam te wees nie, word hy nou vermaan  - daar was dus verwag dat hy sy ouers moet gehoorsaam, maar nou word daar verwag dat hy 'n wet gehoorsaam, en as hy ook nie die wet gehoorsaam nie, dan word hy gestraf) .
DIT GAAN M.A.W. OOR "AAN WIE" ONS GEHOORSAAM IS -  IS EK BV. GEHOORSAAM AAN MY EIE WIL OF AAN DIE HERE SE WIL?  As ek wetend is van wat die wil van die Here is, maar eerder gehoorsaam is aan my eie wil, dan het ek 'n wet nodig om my tot gehoorsaamheid te bring. Kinders van die Here het nodig om te leer "wat die wil van die Here is". Sommige Christene verwar die "wil van die Here" met die feit dat ons nie onder die wet is nie, en wanneer hulle geleer word wat Sy wil is, dan se hulle onmiddellik dat hulle "nie onder die wet is nie" - dus bly hulle onkundig omdat hulle nie na die waarheid soek nie.
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:


Ons dink somtyds dat wanneer 'n broer of suster in Christus in onwetende sonde stap, hy net gelos moet word (en ons sien dit as barmhartigheid??), maar ons moet verstaan dat as hy nie tot insig gebring word nie, hy nie vrug sal dra nie!!!   'n Christen wat bv. betrokke raak by heidense praktyke gaan geen vrug dra nie a.g.daarvan en kan selfs verval in ongeloof!  As ek nou besluit dat ek hom gaan uitlos en stilbly oor die waarheid, dan is ek baie onbarmhartig want ek gee dan nie om of hy vrug dra of nie...  En let wel dat dit hom sy saligheid kan kos (Joh. 15:2)...  Ons moenie dink dat ons enige broer of suster 'n guns doen as ons stilbly oor die waarheid terwyl ons sien dat hy/sy verkeerde grond betrap nie.  Almal van ons is somtyds onwetend oor iets en baie Christene het al a.g.daarvan verkeerde besluite geneem; soos 'n huwelikspaar wat skei sonder grondige rede, of 'n geskeide wat weer trou... Hulle sondig dan onwetend omdat hulle nie die waarheid ken nie. Dit is altyd 'n moeilike situasie wanneer ons nie die kennis het nie.  Ons is nie altyd seker van wat die waarheid nou eintlik is nie omdat daar baiemaal vir ons iets anders geleer word as wat die Skrif ons leer. In sommige gevalle is die Skrif ook duidelik oor wat reg en verkeerd is, maar dan word daar uitsonderings gemaak op ander plekke;  bv., dit is verkeerd om te skei, tog is daar uitsonderings waarom sekere mense toegelaat word om te skei. 

Maar dit is ook nie altyd die geval nie, want baie is WETEND en weet bv. goed dat Jesus Christus self geleer het dat geskeides nie weer mag trou nie of dat iemand nie met 'n geskeide mag trou nie;  tog steur hulle hul nie aan hierdie waarheid nie, en pleeg dus wetende sonde. Geen wonder die Here se " in Hos 4:6,  "My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis", maar let wel dat Hy eintlik nie daar praat van die wat slegs ONKUNDIG is nie, maar van die wat onkundig is omdat hulle NIE NA DIE WAARHEID SOEK NIE! - hulle wil nie "hoor" nie, en a.g.daarvan het hulle DIE KENNIS VERWERP - Hos. 4:6(b): "omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie...".
Kinders van die Here wat nie belangstel om te leer wat die wil van die Here is nie, is ONKUNDIG omdat hulle NIE NA DIE WAARHEID SOEK NIE, en dit kan tot gevolg he dat hulle ten gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis... Net soos 'n klein kindjie geleer word deur sy ouers, so moet jong kinders in die Here Sy verordeninge en insettinge geleer word.  As hulle hierdie fase mis, dan groei hulle nooit op die pad van godsaligheid nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/05/wat-word-bedoel-met-onwetende-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/hoe-groei-die-christen-geestelik.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/05/wat-het-jesus-bedoel-met-aan-hom-wat.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/11/hoekom-skei-die-here-nie-nou-al-die.html
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/02/ons-moet-meer-barmhartig-wees-wanneer.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.