Donderdag 11 Junie 2015

'n Heilige Priesterdom, 'n volk as EIENDOM verky

Vandag verstaan ons nie altyd wat bedoel word met die woorde " 'n heilige priesterdom" nie, maar in die eerste gemeentes was dit nie 'n vreemde begrip nie. Kyk bv. hoe die volk van God 'n "heilige priesterdom" genoem word in 1 Pet. 2:5, en 'n "koninklike priesterdom" (v. 9). In die boek van Openbaring word dit veral gebruik in konteks met die feit dat Christus ons met Sy bloed gekoop het en dat Hy die eersgeborene is uit die dode - Openb. 1:5,6 en 5:9,10 - m.a.w.,  dit gaan oor die feit dat die tweede dood geen mag het oor die gelowiges nie. Dit word ook in konteks gebruik met die feit dat ons "saam met Hom sal regeer"Hierdie beloftes was spesifiek gemaak aan die volk van God (sou hulle die voorwaardes nakom!) - Eks. 19:5,6: "As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou (VOORWAARDE), sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne (BELOFTE)En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel" (kyk ook Jes. 61:6). Die belofte dat die heiliges van die Allerhoogste die koningskap sal ontvang en dat hulle die koninkryk in besit sal neem (tot in ewigheid!), was iets waarop die kinders van die Here nog altyd gewag het.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Volgens Joodse tradisie wil dit voorkom asof die oudste seun (Joodse seun/Hebreer) oorspronklik die pligte van PRIESTER gekry het.  Die eersgeborene moes aan die Here opgedra word sodat hy hierdie pligte kon uitvoer. Die EERSGEBORE SEUN was dus die priester van die familie.  Die woord "priester" verwys na die een wat in beheer is, maar gaan nie noodwendig oor status nie!;  alhoewel daardie persoon 'n besonderse plek het.  Die plek van om in beheer te wees, het gegaan oor VERANTWOORDELIKHEID TEENOOR DIE HERE.  Die priester was die een wat die kennis bewaar; hy moes onderrig gee en was 'n boodskapper van die Here; die een wat na die wil van die Here gevra het (ter wille van die familie) en die een wat gesorg het dat die Vader se wil uitgevoer word en daar VERSOENING gedoen word vir die familie, asook in die Here se Naam seeninge uitgespreek word. Hy moes ook geregtelike uitspraak gee, en uitspraak op sake van twis en verwonding. - Vir skrifte hieroor, gaan na: http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/04/eersgeborenes-en-eerstelingepriesters.html

DIE WOORD "EERSGEBORENES" HOU DUS DIREK VERBAND MET DIE WOORD "PRIESTERS".  Die volk Israel is ook gesien as " 'n eersgebore seun van die Here" tussen die volke (en die EERSTELINGE van Sy opbrings)(Jer. 2:3) - daarom sal almal wat in opstand kom teen Sy volk, skuld op hulleself laai...   Dit is nie net die eersborenes onder die volk wat gesien was soos priesters nie, maar die hele volk was as 'n PRIESTERLIKE VOLK gesien - 'n volk wat die Here dien. Daarom was daar spesifieke verwagtinge aan die hele volk in geheel gestel. En natuurlik sorg die Here altyd vir Sy priesters!  In die geval van die eersgebore seuns onder die volk, het hulle bv. 'n dubbele porsie geerf (Deut. 21:17);  en kyk ook die priesterlike Levitiese stam wat al die tiendes en eerstelinge van alles gekry het... Hulle was in die Here se diens en was "beloon" vir hulle diens.  In die geval van die volk van God (wie soos 'n eersgebore seun is vir Hom - Eks. 4:22), is hulle 'n priesterdom vir Hom en in Sy diens - en dit is aan hulle vir wie Hy Sy koninkryk belowe - hulle sal saam met Hom soos konings en priesters regeer, maar die wat nie die voorwaardes nakom nie en Hom nie dien nie (Hom nie gehoorsaam), sal nie die belofte deelagtig raak nie... Kyk maar bv. hoeveel gevalle is daar van mense wat hulle eersgeboortereg verloor het a.g.v. ongehoorsaamheid en ongeloof! ( http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/04/eersgeborenes-en-eerstelingepriesters.html ).

Nie net het God die volk van Israel 'n eersgebore seun van Hom genoem nie, maar Hy gaan verder en verklaar dat alle eersborenes onder die kinders van Israel, aan Hom behoort! (Eks. 4:22,23; 13:2). Maar na die insident van die goue kalf, was die priesterlike pligte weggeneem van die eersgebore seuns, en aan die stam van die Leviete gegee (Num. 3:41-51) - op dieselfde tyd wat dit gebeur het, was die instelling dat elke eersgeborene losgekoop moes word... Hulle het hulle eersgeboortereg EN PRIESTERLIKE PLIGTE verloor a.g.v. ongehoorsaamheid en ongeloof.  Die Leviete het die pligte gekry van die eersgebore seuns, en moes die volk lei daarin om die Here te dien deur na Sy stem te luister en Sy verbond te hou.  Maar ook was die hele volk soos 'n eersgebore seun vir die Here, want hulle was soos priesters vir Hom in hierdie wereld.  Dit was die volk ("as 'n eersgebore seun") se plig om Sy kennis te bewaar, en die Here het profete uit die volk gekies om vir Hom boodskappers te wees en die wil van die Vader aan die volk bekend te maak. Die Levitiese priesters het die pligte gehad van om versoening te bewerkstellig asook geregtelike uitsprake te maak.      
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

WIE WORD IN DIE N.T. GESIEN AS DIE HERE SE "konings en PRIESTERS"?:
-  Volgens Openb. 20:6 is dit die wat deel het aan die eerste opstandingM.A.W. "CHRISTENE" (JODE EN HEIDENE WAT TOT GELOOF GEKOM HET IN CHRISTUS JESUS, en die wat opgewek sal word tot lewe) - hulle is deur die geloof "kinders van Abraham" en kinders van die belofte (Gal. 3:7-9; Rom. 11:24)(Gal 3:29 - "En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename")(Ef. 3:6). Vgl. dit ook met Rom. 11, met hoe die wat in Christus kom, ingeënt word op die olyfboom...
-  Volgens Openb. 5:9,10, die 24 ouderlinge (wat ook kan verwys na die wat in Christus is)
-  Volgens Openb. 1:4-6, die sewe gemeentes (wat ook kan verwys na alle Christelike gemeentes)
-  Volgens 1Pe 2:5, die gelowige Jode wat in die verstrooiing is;  (die heiliges en gelowiges in Christus Jesus - vgl. ook met Ef. 2:19).

As ons dan nou "konings en priesters" gemaak is in Christus vir Sy Vader, dan is ons besig om die Vader te dien.  Ons is dan 'n priesterlike volk in Sy diens, wat die belofte ontvang dat ons Sy koninkryk gaan beerwe, maar niemand kan die belofte van die koninkryk beerwe as hulle nie die voorwaardes nakom nie (Hebr. 3:11-19)(Matt. 7:21). Ons kan nie bely ons GLO, maar ons dien nie die Here nie / doen nie Sy wil nie (want dan sal ons ook ons posisie verloor, net soos baie eersgeborenes hulle eersgeboortereg en priesterlike pligte verloor het a.g.v. ongehoorsaamheid en ongeloof).  Ons is 'n priesterdom, 'n heilige volk en 'n volk AS EIENDOM VERKRY - ons behoort aan die Here en is in Sy diens (nie in ons eie diens nie!).  Ons moet Sy kennis bewaar, boodskappers vir Hom wees en die wil van die Vader doen.  In Christus is daar vir ons versoening gedoen. Hy is die ewige hoepriester - Hy het vir ons die waarheid gebring, en die wil van Sy Vader volbring. Hy kom terug om te oordeel, en ons sal saam met Hom regeer (en oordeel,1 Kor. 6:2).

(Heb 12:22,23 - "Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges").

(1Pe 2:9,10 - "Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is").

_________________________________________________________________________________

http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/04/eersgeborenes-en-eerstelingepriesters.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/03/die-koninklike-geslag-uit-die-stam-van.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/07/en-ons-gemaak-het-konings-en-priesters.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.