Wys tans plasings met die etiket gehoorsaamheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket gehoorsaamheid. Wys alle plasings

Dinsdag 22 Augustus 2017

Wat doen jy met die "besittings" wat die Here aan jou toevertrou?

In Matt. 25:35,36 verduidelik die Here Jesus dat "om barmhartig" te wees beteken dat ons kos gee vir die wat honger is, iets te drinke vir die wat dors het, herberg gee vir die vreemdeling, klere vir die een wat naak is, besoek die een wat siek is en in die gevangenis...  In konteks kan hierdie gelykenis vgl. word met die gelykenis in die verse vooraf (Matt. 25:14-30) van DIE MAN WAT OP REIS GAAN EN SY DIENSKNEGTE ROEP EN AAN HULLE SY BESITTINGS TOEVERTROU.  Wat ons uit hierdie gelykenis leer is dat Christus (die "man wat op reis" gegaan het) Sy besittings aan Sy diensknegte toevertrou - en Hy deel vir elkeen "besittings" uit... "Besittings" verwys nie noodwendig net na letterlike besittings nie, maar ons leer uit ander skrifte dat dit ook kan verwys na werke of gawes of geld ens. Die vraag is nou hoe elkeen met hierdie "besittings" te werk gaan?, want wanneer Christus TERUGKOM (wanneer "die man op reis" terugkom), dan sal elke dienskneg geoordeel word op wat hy met dit gedoen het wat die Here aan hom toevertrou het...  Maak nie saak hoe min iemand ontvang, of hoe baie hy ontvang nie, die vraag is: "wat doen hy met dit wat hy ontvang"? (Luk. 19:12-27).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Vgl. dit gerus met ander skrifte oor hierdie onderwerp, bv. Gal. 6:9,10 waarin ons beveel word om aan alle mense goed te doen, gelowiges sowel ongelowiges (maar eerste aan die gelowiges)...(http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/03/wat-moet-die-christen-se-persepsie-wees.html). Kyk ook Christus se woorde in: Luk 6:36 - "Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is" - in konteks het Hy hier bedoel dat ons goed moet wees vir alle mense, selfs ons vyande.  L.w. dat dit wat die Here aan Sy diensknegte toevertrou, steeds aan Hom behoort, en jy as dienskneg moet dit "reg gebruik", bv. o.a. aanwend vir barmhartigheid.  Sommige verstaan dit verkeerd en dink dat as die Here vir hulle seën met "besittings", bv. 'n spesifieke gawe van die Gees gee, dit is omdat hulle belangriker is as ander mense (??) en gebruik dan die gawe volgens eie wil en vir eie eer (Matt. 7:22).  Ander word geseën met geld en reken dat hulle meer geld ontvang omdat dit hulle eerder toekom as vir iemand anders (??), en hou al die geld vir hulleself en leef in rykdom terwyl ander broers en susters sukkel om te oorleef (Matt. 6:24). Ander word geseën met die vermoë om spesifieke werke te doen,  maar kyk neer op die wat dit nie kan doen nie (1 Kor. 1:26-29; Ef. 4:1-4). Ander word geseën met baie besittings, maar hou hulle oë toe vir die in nood en vergader meer en meer "skatte"... (Luk. 12:15-21; Jak. 5:3).  Elkeen van ons moet ag gee op Jesus se woorde en verstaan dat hierdie 'n belangrike saak is vir Hom. Natuurlik beteken dit nou nie dat ons mekaar loop en voorskryf wat ons dink elkeen veronderstel is om met sy geld of besittings of werk of gawes te doen nie! (Matt. 14:1-8), want elkeen moet self die Here raadpleeg en doen wat hy ookal weet die Gees hom lei om te doen.  As ons gehoorsaam is aan die Gees, dan sal ons outomaties barmhartigheid doen sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen. En as ons verstaan dat dit wat die Here aan ons toevertrou steeds aan Hom behoort en nie aan ons nie, dan sal ons ag gee op die stem van die Gees. Toe deur die Heilige Gees te kenne gegee is dat 'n hongersnood oppad is, het die dissipels besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon (Hand. 11:29). Toe die Gees vir sekere gelowiges uitwys dat die daaglikse versorging vd weduwees in die gemeente oorgesien is, is daar manne gekies (vol vd Heilige Gees en wysheid) om hierdie bediening te vervul.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wil jy iets vir die Here doen? - (Mat 25:40b - "......... vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen").Ons verstaan miskien hierdie goed wanneer dit kom by barmhartigheid t.o.v. fisiese dinge soos kos gee vir die maag, maar verstaan ons dat "om barmhartig te wees" uit gehoorsaamheid aan die Gees nie net gaan oor die fisiese nie, maar ook oor die geestelike? (m.a.w. jy ONTVANG kwytskelding, maar gaan jy ook ander kwytskeld?).
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:


Die gelowige se "werke" (m.a.w., wat hy doen met die "besittings" wat aan hom toevertrou is) moet gesien word as 'n teken van geloof en moet geskied uit gehoorsaamheid aan die Here.  As iemand bely dat hy geloof het maar sy werke getuig van iets anders, dan kan so 'n geloof hom nie red nie - Jak. 2:14-16 - "Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?  As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit?". Die eerste Christene het op 'n stadium alles gemeenskaplik besit, eiendomme en besittings verkoop en die opbrings tussen almal verdeel... (Hand. 2:44,45; 4:35) - hierdie drastiese optrede was in opdrag van die Gees (Hand. 5:3), en dit beteken nie dat dit altyd op hierdie manier gedoen was nie want wat hulle ookal doen met dit wat hulle ontvang, sou moes wees soos die Gees hulle lei, nie wat hulle WIL doen nie, maar wat DIE GEES WIL doen.  Hulle het die belangrikheid van barmhartigheid verstaan en verstaan dat dit geskied uit GEHOORSAAMHEID AAN DIE GEES (wat Hy ookal wil doen, en hoe Hy dit wil doen). Dit is 'n fout as ons dink dat die Here ons seën om te doen wat ons wil met dit wat Hy aan ons toevertrou - so 'n dienskneg se manier van dink is verkeerd en hy dink dat dit wat die Here aan hom gee, aan hom behoort, maar die waarheid is: "dit behoort aan die Here"! (Luk 17:33 - "Elkeen wat probeer om sy lewe te red, sal dit verloor; en elkeen wat dit verloor, sal dit behou")http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/07/wat-jy-opgee-in-hierdie-lewe-sal-jy-wen.html.


Die eerste Christene het duidelik verstaan dat alles wat hulle het nie werklik HULLE EIE is nie, maar eintlik aan die Here behoort - en hulle is aangestel en geseën met hierdie "besittings" met die doel om dit te gebruik om Sy wil uit te voer.  Vgl. dit gerus met Luk 16:12 - "En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?". As ons nie getrou was IN DIE HERE SE GOED nie, hoe sal ons eendag ons eie kry?
_________________________________________________________________________________

Woensdag 12 April 2017

Wat beteken dit om 'n "rein of suiwer hart" te he?

Die met REIN harte word gesien as "salig", want hulle sal vir God sien (Matt. 5:8). Koning Dawid het ook die belangrikheid van 'n rein of suiwer hart verstaan, en het gebid dat die Here 'n rein hart in hom sal skep ...(Ps. 51:10).  Hierdie "besnydenis van die hart" is egter nie alleenlik iets wat net deur die Here in die gelowige gedoen word (soos baie glo) nie, maar is ook iets wat die Here van elke gelowige verwag om self te doen................................................................................................................................. Dit is interessant om te sien hoe die tema van "suiwer hart" aansluit by die tema van die "besnydenis" (vd hart).  Die tema van " die besnydenis" gaan nie net oor die "besnydenis van die vlees" (vleeslike besnydenis) nie, maar gaan ook oor (en veral oor) die BESNYDENIS VAN DIE HART! (Eseg. 44:9...). Die vleeslike besnydenis was wel 'n teken van die ou verbond, maar ONGEHOORSAMES was steeds gesien as onbesnedes al was hulle ook vleeslik besny! (Jer. 9:25...). Ook in die N.T. word die ONGEHOORSAMES en die wat die Heilige Gees weerstaan, voorgestel as die "wie se harte en ore nie besny is nie" (Hand. 7:51, Matt. 13:15, Hand. 28:27)In verskeie ander skrifte verwys 'n "onbesnede hart" veral na die wat (alhoewel "kinders van God")(en sommiges wat ook vleeslik besny was!) stap in sonde en ongehoorsaam is aan die Here (m.a.w. dit verwys na die ongehoorsame gelowiges, die wat die ongeregtigheid liefhet - Lev. 26:41; Eseg. 44:90), en "die wie se harte VERKEERD is" (Jer. 9:26) en gewentens besoedel (1 Kor. 8:7...)-soos die wyse wat hom beroem op sy wysheid, -of die sterke wat hom beroem op sy sterkte, -of die ryke op sy rykdom... (Jer. 9:23)
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
-  Die Bybel leer vir ons hoe ons ons eie harte kan ondersoek om te sien of dit suiwer / rein is, of besoedel / onrein is.  Daar is bepaalde kenmerke wat bv. die met rein harte beskryf, soos dat die met rein (skoon/suiwer) harte ook die is wat die Here vrees (Ps. 19:9, en vgl. met Hand. 10:35).  Die wat NIE die Here vrees nie (bv. die wat "eie wil" bo die Here se wil kies, of nie bereid is om lewe te verloor ter wille van die Here nie...) se harte is nie suiwer nie. 

-  Verder is dit ook elkeen se eie WOORDE wat getuig wat in sy binneste aangaan (Spr. 15:26). Christus het ook hierdie feit bevestig in Matt. 12:34.  Dit wat die mens "praat" wys of sy/haar hart REIN (skoon), of ONREIN (besoedel) is - "want uit die oorvloed vd hart praat die mond..." Die begrip "suiwer" of rein hart verwys na die wat "skoon" van hart is (Ps. 51:10). Bv., die Here se woorde is altyd REIN ("skoon" - nie besmet nie)(Ps. 12:6), want in Hom is niks onrein nie, maar die wat valse leerstellings verkondig se woorde is BESMET en dit wys wat in hulle harte aangaan en dat hulle harte onrein is...


-  Selfs dit wat iemand dink (m.a.w. soos watter gedagtes hy koester of dit wat hy bedink), wys of sy hart suiwer is of nie!  Dit wat uit die hart uit kom, kan dus iemand BESOEDEL (sou die hart onrein wees). Christus het geleer dat dit nie dit is wat ingaan in die liggaam wat iemand besoedel niemaar dit wat uit die hart uit kom (Mark. 7:21; Matt. 15:19);  m.a.w., soos iemand wat onrein (besoedel) word DEUR SY GEDAGTES- Mat 5:28 - "Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het" -  In hierdie geval is die persoon wat "in sy hart egbreuk pleeg", se hart NIE SUIWER nie. Dit is dus wat hy "in sy hart bedink" (in sy hart doen of bedink om te doen) wat hom onrein maak.  Net soos wat die fisiese daad van sonde die liggaam onrein maak, so kan sondige gedagtes en verkeerde of nie-opregte bedoelinge iemand ook onrein maak. Mense se begeerlikhede, in geval van dinge wat ons nie moet begeer nie, kan veroorsaak dat hulle deur die kwaad versoek word (Jak. 1:13,14).  Hierdie soort begeerlikhede of gedagtes baar sonde as dit ontvang word! (Jak. 1:15), en het tot gevolg dat iemand onrein word daardeur.  Elke Christen word geroep tot HEILIGMAKING! (1 Thess. 4:7)(m.a.w., nie geroep tot onreinheid nie, maar geroep om hom/haarself af te sonder vir die Here).  

(1)  Deels is die besnydenis van die hart iets wat die Here self doen in die gelowige (Deut. 30:6)(wedergeboorte - Sy saad...)
(2)  maar deels is dit ook iets wat van elke gelowige verwag word in die sin van dat elke Christen sy/haar eie lewenswandel moet heilig (afsonder) vir die Here (1 Pet. 1:15) - m.a.w., daar word ook van elke gelowige verwag om sy/haar eie "hart te besny" (Deut. 10:16) http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/10/die-godsaligheid.html.  
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
Onreinheid is een van die "werke van die vlees" (Gal. 5:19).  Die begrip "onrein" word in verskillende kontekste in die Skrif gebruik, en ons moet besef dat "om onrein te wees", nie altyd beteken dat iemand sondig is nie!; alhoewel, in meeste kontekste van die N.T. verwys die woord "onrein" veral na die wat besoedel is van SONDE, hetsy deur: 
(1)  fisiese sonde (waardeur die liggaam besoedel word-Jak. 3:6; Kol. 2:11; Jak. 5:3; 1 Pet. 4:6; Gal. 5:19,24; 6:8;  Hebr. 9:13...), OF 
(2)  deur bedoeling, gedagtes, begeertes en oorlegginge van die hart (waardeur die gewete besoedel word-1 Kor. 8:7; Tit. 1:15; 1 Pet. 3:21), (en waardeur die hart besoedel word- 1 Joh. 3:17,20,21; 2 Pet. 2:14; Jak. 3:14; Openb. 18:7; Jak. 1:26; Hebr. 3:10,12; 1 Tim. 1:5; 2 Tim. 2:22; Ef. 4:18; 1 Kor. 7:37; Rom. 10:6...). 

M.a.w., die vraag wat elkeen moet vra is, wat in sy hart aangaan?  'n Interessante vb. is die van Mark. 10:17-23 van die persoon wat kom navraag doen het oor die ontvang van die ewige lewe...  In die betrokke gedeelte wys Jesus vir hom wat in sy hart aangaan en wys hom dat hy te geheg is aan sy besittings. Hy het gedink dat hy die eerste gebod nakom, maar hy het nie want die begeertes van sy hart het iets anders gewys. ELKE CHRISTEN MOET SEKER MAAK DAT HY OOK SELF SY HART BESNY DEUR AG TE GEE OP DIE OORLEGGINGE, BEGEERTES EN GEDAGTES VAN SY HART. As iemand bv. gedagtes van sonde koester, dan is dit dit wat in sy hart aangaan (Hebr. 4:12). In Ps. 24:3,4 word "suiwer hart" beskryf as die een wat nie sy siel ophef tot nietigheid nie en nie vals sweer nie;  maar die wat hulle verontreinig deur die BEGEERTE van nietighede, se harte word besoedel.  Die wat bv. vals sweer, se harte getuig van iets anders as wat hulle verklaar - alhoewel hulle voorgee hulle bedoel dit wat hulle verklaar, is hulle harte besig om te lieg - hulle harte is m.a.w. nie opreg of suiwer nie. Jakobus raak ook hierdie onderwerp aan in Jak. 4:8b - ".......suiwer die harte, julle dubbelhartighes!".  En l.w., hier geskryf aan Christene en in konteks met die wie se BEGEERTE is om vriende van die wêreld te wees - hulle is dubbelhartig en wil beide die Here en die wêreld dien.  Paulus leer vir ons in 2 Kor. 10:4,5 dat die wapens van ons stryd nie vleeslik is nie...., maar, Wat is hierdie wapens?, en hoe word hierdie vestings neergewerp?  Die "Wapens" wat hier genoem word is o.a. dat ons:
-  planne (gedagtes) en skanse (soos mure) wat opgewerp word teen die kennis van God, moet verbreek;  (1 Kor. 1:27; 3:19,20) (m.a.w. valse of verdraaide leerstellings; eie wil ens.)
en dat ons:
elke gedagte (bv. sondige gedagtes) gevange moet neem tot gehoorsaamheid aan Christus. (Hebr. 4:12; Rom. 1:21; 8:5; 1 Joh. 2:15,16)(Kol 3:2 - "Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie").
__________________________________________________________________________________________________________________________________

GEDAGTE:



In die Skrif is dit slegs die GEHOORSAMES wat gesien word "as besny" (m.a.w. besny na die hart)(Kol. 2:11).  Die vleeslike besnydenis was 'n teken of bewys van wie dit is wat glo (en ook soos 'n belydenis, m.a.w. het bewys wie dit is in wie hulle glo en vir wie hulle dien)(Rom. 4:11) - Op dieselfde wyse is die BESNYDENIS VAN HART 'n bewys of teken van wie dit is wat glo (en ook soos 'n belydenis van wie dit is in wie jy glo en vir wie jy dien!) Dit gaan dus oor wie dit is aan wie jy jouself ONDERWERP. As jy bely dat jy GLO, dan moet jou hart ook getuig dat jy GLO.  
-Waarvan getuig jou hart? Aan wie is jy gehoorsaam? Wat is dit wat jy in jou hart begeer?  Begeer jy eer van mense en/of dinge soos rykdom..., of is jou begeerte na die Here?  
-Wat is dit wat jy in jou hart bedink? Bedink jy die dinge van die wereld, of die dinge van God? Koester jy gedagtes van sonde, of lê jy die liggaam vd sondige vlees af?  Koester jy gedagtes en leringe van wêreldse wysheid, of soek jy eerder die waarheid en plaas jou gedagtes op die dinge daarbo?  
-Wie is dit vir wie jy soek, en wie is dit vir wie jy raadpleeg? Raadpleeg jy wêreldse wysheid en afgode (dus afgodspraktyke), of raadpleeg jy die Here?  
-Hoe klink die woorde wat uit jou mond uit kom?  Wat is jou getuienis? Wat is dit wat jy verkondig? Verkondig jy wereldse wysheid, of verkondig jy die waarheid en leringe wat Christus gebring het? 

Wat is dit wat in jou hart aangaan?, want dit wat in jou hart aangaan, wys of jy rein of onrein van hart is. Jou woorde en wat jy dink en wat jy doen is 'n getuienis van jou hart se toestand en wys wat dit is waarin jy glo en wat vir jou belangrik is... 

_________________________________________________________________
http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/11/die-besnydenis.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/09/rein-skrifgedeeltes-en-betekenis.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/02/weer-gebore-wedergeboorte-wedergebore.html

Dinsdag 13 Oktober 2015

Word die Christen (wat glo) se sondes onvoorwaardelik vergewe?

Wanneer ons kyk na die tema van wetend of onwetende sondes, is dit veral verwysend na sondes wat kinders van die Here pleeg (ons verwys nie hier na die wat in die wereld is nie).  Alhoewel die Christen vergifnis ontvang van sonde in Christus Jesus, moet ons ook verstaan dat daar gevalle is waar sonde nie vergewe word nie;  alhoewel alle sondes (behalwe lastering teen die Heilige Gees) vergeefbaar is! (maar met voorwaardes).  Daar is m.a.w. voorwaardes wat 'n kind van die Here moet nakom voor hy vergifnis van sondes kan ontvang.  Meeste kerke leer dat die enigste voorwaarde "geloof" is in Christus Jesus, maar ons moet verstaan wat geloof beteken en dat iemand nie kan "glo" as hy hom nie ook bekeer nie.  Geloof is nie alleen 'n belydenis nie  (geloof sonder werke is dood!).  Geloof gaan oor diensbaarheid en gehoorsaamheid aan die Here.  Christene wat bv. in wetende sondes stap sonder om hulle te bekeer daarvan, bring 'n oordeel oor hulleself (1 Kor. 11:29) - M.A.W., IN SO 'N GEVAL WORD SY SONDE NIE VERGEWE NIE!
-Wie is vir die Here welgevallig?
-Aan wie bewys Hy barmhartigheid?  - DIE WAT HOM VREES en SY GEREGTIGHEID DOEN! (Hand.10:35). Baie predikers lieg deur voor te gee dat solank iemand geloof in die Here Jesus bely, die Here sy sondes onvoorwaardelik vergewe, maar dit is definitief nie wat Jesus of die dissipels geleer het nie! Inteendeel het Jesus se bediening begin deurdat Hy mense opgeroep het tot bekering (net soos Johannes die Doper gedoen het asook die dissipels na die uitstorting van die Heilige Gees), en Hy het ook verwag dat die wat Hom aanneem, onderhou wat Hy hulle beveel! (Matt. 28:19). BEKERING en GEHOORSAAMHEID was altyd deel van die voorwaardes, maar baie van vandag se predikers het hierdie boodskap verdraai.  Baie wil Jesus se vriend wees, maar hulle wil nie doen wat Hy hulle beveel om te doen nie (Joh. 15:14). Vriende le hulle lewens vir mekaar af  (Joh. 15:12,13).  Jesus was bereid om Sy lewe af te le omdat Hy vir ons almal liefhet, maar is ons bereid om (soos vriende vir mekaar doen) ons lewens af te le vir Hom?, want as 'n Christen sy eie lewe meer liefhet en bv. nie bereid is om wetende sondes af te le nie (m.a.w. nie gehoorsaam is nie), dan bewys hy dat hy nie regtig die Here se vriend is nie, want hy is nie bereid om ook sy lewe vir Hom af te le nie.  En ten spyte van die waarheid, glo baie liewer in die leuen en dink dat die Here barmhartigheid sal bewys al kom iemand nie die voorwaardes na nie, maar die waarheid is dat geen kind van die Here vergifnis van sonde ontvang AS HY DIT NIE BELY NIE (1 Joh. 1:9) - as hy weier om hom te bekeer van wetende sonde, dan kan hy glad nie staatmaak daarop dat die Here sy sonde sal vergewe nie!  (Openb. 2:5,16; 3:3,19; Jak. 5:19,20...).

Hetsy Christene dit wil glo of nie, elkeen sal geoordeel word, en die oordeel begin by die huis van God (1 Pet. 4:17-19).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die Here is wel meer barmhartig teenoor iemand wat onwetend ("weet nie wat hy doen nie") sondig as iemand wat wetend sondig - kyk bv. Jesus se woorde aan die kruis: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.... (Luk. 23:34 a).  Somtyds is dit regtig so dat iemand nie besef watter onreg hy aan iemand anders doen nie.  Paulus (Saulus) was so 'n vb. - hy het die Christene vervolg en nie besef dat hy verkeerd is nie. In 1 Tim. 1:12,13 verklaar hy dat die Here aan hom BARMHARTIGHEID bewys het OMDAT hy "onwetend" gesondig het.  Saulus moes eers wetend word voor hy hom kon bekeer van daardie sonde - in daardie opsig was daar aan hom barmhartigheid bewys, want die Here het hom 'n kans gegun om sy sonde te bely en nie onder oordeel te val nie.

Waar 'n kind van die Here egter WETEND sondig, moet hy nie tot insig gebring word nie, maar eerder vermaan word. Dit beteken dat daar geweier moet word dat sy sonde vergewe word tot hy berou kry en dit bely (en dan kan die sonde eers vergewe word). Die onwetende moet nie berispe word nie, maar eerder tot insig gebring word.  Die wetende moet berispe word.
(Jak. 5:19)  Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer,
(Jak. 5:20)  laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.
_________________________________________________________________________________


GEDAGTE:


Regdeur die Ou en Nuwe Testament sien ons dat iemand se sonde somtyds nie aan hom bekend is nie (hy sondig onwetend). Dit beteken egter nie dat daar geen versoening nodig is vir onwetende sondes nie; inteendeel, in die O.T. was daar 'n spesifieke offer "vir sondes wat onwetend begaan is" (Eseg. 45:20)(vgl. dit met Hebr. 9:7). 

Wanneer iemand wat onwetend gesondig het, wetend word van sy sonde, was daar ook 'n spesifieke offer wat hy daarvoor moes bring (Lev. 4:27,28). Die oomblik toe hy wetend word van sy sonde was daar van hom verwag om reg te maak. Op dieselfde wyse is Christene somtyds onwetend wanneer die waarheid aan hulle gebring word, maar die oomblik wat hulle wetend word, word daar van hulle verwag om dit te bely en hulle te bekeer van daardie sonde. So iemand kan nie verder in sonde stap asof onwetend nie, want nou is hy wetend, en as hy weier om hom te bekeer daarvan, sal hy beslis onder oordeel val daarvoor.  Net so was die waarheid aan die volk en baie van hulle owerstes gebring, na Jesus Christus se opstanding, en alhoewel hulle Hom onwetend gekruisig het (Hand. 3;17), was hulle nou WETEND en was daar van hulle verwag om hulle te bekeer tot die Here Jesus die oomblik toe hulle sonde aan hulle bekend word (Hand. 3:17-19)(1 Pet. 1:14). Die oomblik toe hulle wetend word van hulle sonde, moes hulle hul bekeer voor hulle sonde afgewas kon word. As 'n Christen hom nie bekeer van wetende sonde nie, dan sal daardie sonde nie vergewe word nie!

_________________________________________________________________________________
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/05/wat-word-bedoel-met-onwetende-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/07/soos-ons-ook-ander-vergewe-2.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/08/soos-ons-ook-ander-vergewe-3.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/wat-beteken-dit-om-tot-bekering-te-kom.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/01/is-daar-iets-soos-groot-en-klein-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/01/barmhartigheid.html